
Altesaam 73 000 besoekers en 800 uitstallers het verlede week aan die Nampo-oesdag deelgeneem. Die geleentheid is vir die eerste keer in die 54 jaar lange geskiedenis oor vyf dae aangebied. Daar is besluit om die skou vanjaar ’n dag langer aan te bied aangesien covid-19-regulasies ’n beperking geplaas het op die aantal mense wat per dag op die terrein toegelaat kon word.
Dr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, sê luidens ’n verklaring die uitstallers by Nampo 2022, groot en klein, verdien ’n pluimpie vir die standaard, moeite en verskeidenheid van hul uitstallings. Nagenoeg 150 van die 800 uitstallers was vanjaar nuut. “Dit is opmerklik dat uitstallers nuwe idees Nampo toe gebring het. Dit is deel van die waarde wat produsente self hier kan beleef. Twee jaar se ontwikkeling in tegnologie en ’n klomp nuwe innovasies was te sien.”
Mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, sê Nampo is ’n fenomenale gebeurtenis en geleentheid om die verskaffers en die hele familie te ontmoet wat die wêreld van landbou skep, nie net in Suid-Afrika nie, maar reg oor die wêreld.
Die week is verlede Maandag ingelui deur ’n besoek van me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. Haar afvaardiging het haar twee adjunkministers en die departement se direkteur-generaal, mnr. Mooketsa Ramasodi, ingesluit. Sy het tydens die besoek gesprek gevoer met die ministers van landbou en grondhervorming van die Demokratiese Republiek van die Kongo, asook die Argentynse ambassadeur.
Mathews sê Graan SA waardeer Didiza en haar afvaardiging se besoek aan Nampo om die produsente te leer ken. “Dit is wat ons as Suid-Afrikaners moet doen; ons moet mekaar leer ken.”
Altesaam 335 vliegtuie en 70 helikopters het deur die loop by Nampo geland, met sowat 925 besoekers wat die skou via die lugruim besoek het.
Beplanning in volle gang
Mnr. Toit Wessels, assistent-bestuurder van bemarking by Graan SA en Nampo, het aan Landbou.com gesê hulle is reeds in volle beplanning om Nampo Kaap van 14 tot 17 September en Nampo Alfa van 30 September tot 1 Oktober aan te bied.
“Ons werk vandeesweek al aan daai legkaart van uitstallers. Aansoeke vir Nampo Kaap en Nampo Alfa is reeds oop, en veral diegene wat by Nampo Kaap wil uitstal, moet spring om hul stalletjies te bespreek.” Sowat 400 uitstallers het in 2019 aan Nampo Kaap deelgeneem.
“Ons het besluit om met die aanbied van dié twee geleenthede voort te gaan, want met die afgelope Nampo het ons gesien ons kan dit suksesvol binne die regulasies aanbied.”
Die Nampo-oesdag vir volgende jaar word van 16 tot 19 Mei 2023 beoog. Wat die aanbied van Nampo 2023 vir moontlik vyf dae lank betref, sê Wessels daar sal ’n opname onder uitstallers gedoen word om vas te stel of hulle dit so wou hê, waarna die oesdag-komitee ’n finale besluit daaroor sal neem.