
Die regering is voortdurend in gesprek met boere, deur hul organisasies, oor maniere om hoë insetkoste te bestuur, het Didiza gesê. Sy het die terrein saam met ’n hoëvlak-afvaardiging van die departement van landbou besoek.
“Ek sê altyd Nampo is my tuiste. Ek kom hierheen om tyd met boere en die bedryf deur te bring, om self te sien wat die nuutste tegnologie is en om boere aan te moedig om aan te hou produseer sodat ons almal kan eet en klere het om aan te trek.”
Didiza het in antwoord op ’n vraag oor wat die regering kan doen om die probleem van hoë insetkoste aan te pak, haar kommer uitgespreek oor die impak van buitelandse gebeure wat insetkoste plaaslik opjaag. “Ons moet nie die uitwerking van die konflik tussen Rusland en Oekraïne op insetkoste onderskat nie, byvoorbeeld op koringpryse.”
Sy het beklemtoon dat enige hulp wat die regering aanbied om die impak van hoër insetkoste te versag, in ooreenstemming met die bepalings van die Wêreld-handelsorganisasie moet wees. “Dus moet ons boere ondersteun op ’n manier wat nie handel vernietig nie.”
Didiza het gesê die huidige hoë kunsmispryse is een van die gesprekspunte waaroor sy met die landboubedryf praat.
Sy en mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het reeds met die bestuur van Foskor gepraat oor hoe hy produksie kan verhoog. Gebeure soos die handelsontwrigting van die pandemie en die huidige konflik in Oekraïne het weer die belangrikheid van plaaslike produksie uitgelig om die invloed van buitelandse gebeure op plaaslike markte te versag.
“Die standpunt teen lokalisering is dikwels dat die koste te hoog is, maar ons moet ook dink aan die voordele op langer termyn en gebalanseerd na die standpunt kyk. Ons het gesien wat tydens die covid-19-pandemie gebeur met lande wat vir al hul goedere van die buiteland afhanklik is.”
Oor die ondertekening van die landboumeesterplan het Didiza gesê nou lê die harde werk voor om die plan in werking te stel. “Dit was na my mening ’n lang, maar ’n goeie reis tot by hierdie punt waar ons die sektor op ’n inklusiewe wyse kan laat groei.”