
Mnr. Mark Rose, uitvoerende hoof van strategie van handelsbanksake by Nedbank, het op die geleentheid in die Nasie in Gesprek-ateljee op Nampo Kaap aangedui dat die vennootskap daarop konsentreer om unieke modelle van finansiering te ontwikkel as deel van pogings om opkomende boere te help om hulself te vestig in die landbou en kommersieel te kan boer.
Een van talle opkomende boere se grootste probleme is om finansiering te bekom, aangesien hul boerderye nie noodwendig saamgestel is soos ’n kommersiële boerdery wat by ’n handelsbank om finansiering kan aansoek doen nie.
Nedbank het R7 miljoen aan SA PALS oorhandig. Dié geld sal vir PALS se opleidings- en mentorskapprogramme aangewend word.
“SA PALS verander die gesig van die landbou. Met hierdie vennootskap (om groei en uitbreiding te bewerkstellig) sal die organisasie nou in staat wees om uit te brei en broodnodige kundigheid en vaardighede na die res van die land te neem. “Ons is trots daarop om hierdie reis saam met SA PALS te onderneem en ons sien uit na die voordele wat dit teweeg sal bring om die landboubedryf te transformeer,” lui ’n verklaring deur Nedbank.
Drie jaar
Mnr. Heinrich Jantjies, voorsitter van Witzenberg PALS, het op die geleentheid gesê met behulp van die vennootskap wil hulle binne die volgende drie jaar ’n PALS-inisiatief in elke provinsie in die land vestig. Tans bestaan PALS-inisiatiewe in die Wes-Kaap, die Vrystaat en Mpumalanga.
Mnr. Gerrit van Vuuren, prokureur en strategiese adviseur by SA PALS, het gesê hulle het sewe jaar lank gesukkel om ’n deurbraak te maak ten opsigte van veral finansiering, en hulle is baie dankbaar vir die deurbraak. “Ek hoop dat ons saam vinnig sal kan groei.”
Van Vuuren het gesê soos wat met PALS tot dusver die geval was, sal daar deeglik boek gehou word van alle werksaamhede en daar sal gereeld terugvoer oor die vennootskap wees. “Ons gaan gereeld en reguit met mekaar praat.”
Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, het SA PALS en Nedbank geloof vir hul werk en vir die vennootskap, asook die verskil wat dit kan maak. “Landbou is ’n werkwoord, dit is om die land te bou, en waarmee julle hier besig is, is om die land op te bou. En dis nie net ’n projek vir die betrokke boerderye nie, maar vir die gemeenskap en die land. Dit herbou die land.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.