
Al hoe meer plattelandse gemeenskappe rol self die moue op om vervalle infrastruktuur te herstel of flenterstrate weer rybaar te maak. Maar hoe baat dit ’n gemeenskap om self dienste te lewer waarvoor inwoners reeds belasting betaal?
Dít was een van die gesprekspunte op Nampo se Nasie in Gesprek, ’n reeks paneelbesprekings oor landboukwessies, met mnr. Theo Vorster as gespreksleier.
Paneellede was dit eens dat dit om verskeie redes nie meer moontlik is vir die regering om die verval op die platteland te stuit nie. “Dit gaan nie gebeur nie. Wat ons in Suid-Afrika moet doen, is om voorbeelde te skep van dorpe wat verantwoordelikheid vir hul eie omgewing neem; dan sal die res volg,” het mnr. Barend le Grange, bedryfshoof van die Privilege-stigting, gesê. Hy moedig gemeenskappe landwyd aan om juis dit te doen. Daar is baie te wen met so ’n benadering – en die voordele word nie net in geldwaarde gemeet nie.
“Inwoners het besef as jy wil hê mense moet kos op die tafel hê, moet jy jou dorp beleggersvriendelik maak,” het Le Grange gesê. Partymaal is dit juis ’n krisis wat tot ’n suksesverhaal lei, soos toe inwoners van Coligny in 2017 en Senekal in 2019 na mekaar uitgereik het ná rassespanning die dorpe geteister het. Die samewerking het oor kleur-, politieke en kerkgrense heen gestrek, want daar was ’n gemeenskaplike doelwit. “Almal wil ’n veilige omgewing, skoon water en goeie skole vir hul kinders hê. As jy die dinge kan identifiseer wat vir almal belangrik is, kom mense byeen om daarvoor te werk.”
Die landbousektor, as die vernaamse ekonomiese stukrag, het die potensiaal om die platteland weer vooruitstrewend te maak. Daarom maak dit sin dat dié sektor die opheffing van die platteland lei, het mnr. Lennox Plaatjies, direkteur van Bambisane Farming en direksielid van die Partners in Agri Land Solutions (PALS), gesê.
Dié organisasie, wat in 2014 in Ceres gestig is, smee swart en wit boere saam om volhoubare oplossings vir grondhervorming deur sukesvolle vennootskappe te vind. “Die sleutel tot suksesvolle herlewing van die platteland is samewerking, ook met die plaaslike regering. Ons kan nie elkeen op sy eie werk nie. Dis noodsaaklik om ’n verstandhouding met die plaaslike regering te kry.”
Le Grange het gesê mense moenie die regering ignoreer nie. “Dis hul terrein waarop jy beweeg. Onderhandel ’n memorandum van verstandhouding voor jy iets aanpak.”
Benewens samewerking moet daar ook ’n gestruktureerde plan wees, het mnr. Theo Boshoff, uitvoerende hoof van Agbiz, gesê. “Jy eet die olifant happie vir happie. Begin met toegespitste ingryping.”
Hy het gesê op die platteland word dikwels van landbou-ondernemings verwag word om die voortou te neem om stukkende infrastruktuur te herstel, en hulle help graag. “Maar daardie koste moet iewers verhaal kan word, want dit kalwe hul winsmarges weg. Dit is nie ondernemings se verantwoordelikheid nie. Dit is die staat s’n. Daarom behoort die staat hulle tegemoet te kom met byvoorbeeld belastingtoegewings.”
Die nie-materiële voordele om goeie menseverhoudings oor grense heen te kweek, het tydens die onluste in KwaZulu-Natal duidelik geword, het Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, gesê.
Op ’n seminaar wat Landbouweekblad daarna in Hluhluwe aangebied het, het boere vertel hoe die brood wat hulle op spreekwoordelike manier op die water gewerp het, teruggekom het. Die boere het destyds met die droogte na kleinboere in die kommunale gebiede uitgereik en vir hulle boorgate gesink en voer geskenk. Só is ’n verhouding gebou.
Toe die onluste begin, het die tradisionele leiers dié boere gebel om hulp aan te bied. Daar is gevra of hulle padblokkades kan help beman, en dit het hulle gedoen met die samewerking van die plaaslike taxi-verenigings. Danksy hierdie hulp het Hluhluwe geen skade weens plundering gely nie. “Dis die voordeel van oop kommunikasie tussen swart en wit gemeenskappe wat die politieke kansvatters gefnuik het.”
Daar is ’n magdom onontginde potensiaal op die platteland wat benut kan word, het Burgess gesê, toe hy gevra is oor maniere om heropbou te begin. “Skep waarde waar daar voorheen niks was nie. Dis nie die hele antwoord nie, maar dis ’n groot deel daarvan.”