
Twee groot probleme wat nie-kommersiële boere ondervind, is gebrekkige toegang tot betroubare kragvoorsiening en lae waterdruk. Met Reinke se nuwe enjinaangedrewe minispilpunt (engine driven mini pivot, EDMP), kan ’n kleinboer ook sy diere se weiding besproei of selfs sorg dat die lappie mielies agter die huis genoeg water kry.
Die groot voordeel van die enjinaangedrewe spilpunt teenoor ’n wateraangedrewe spilpunt is dat daar nie soveel waterdruk hoef te wees nie.
Die minispilpunt het nie ’n beheerpaneel nie, maar bied ’n keuse van ratkaste wat die spoed en dus toedieningsvolume bepaal. Die ratkaste is beskikbaar met lae spoed, standaardspoed of hoë spoed. Na gelang van die ratkasverhouding sal die spilpunt vinniger of stadiger loop teen dieselfde enjinomwentelinge per minuut.
Die krag agter die minispilpunt is ’n kragtige petrolenjin van 4 kW en die brandstoftenk hou 22,7 liter. Vir besproeiing sal die enjin egter nie naastenby op volle sterkte werk nie.
’n Staaldeksel beskerm die enjin teen die weer. Reinke se kundiges help die boer om die regte spanlengte, oorhanglengte, wielgrootte, aandrywing en spuitpakket te kies. Reinke-handelaars kom rig dan die spilpunt op. Reinke voorsien die boer ook van pompe en pype.
Spanlengtes wissel van 41,8m tot 65 m en oorhanglengtes van 12,8 m tot 32 m. Altesaam is die minispilpunt nie langer as 97 m nie. Dit dek ’n sirkel van sowat 3 ha.
Dié kleiner spilpunte is nie net ideaal om die uitvalhoeke op kommersiële plase beter te benut nie, maar kan ook ’n wesenlike verskil maak in hoe doeltreffend die kleiner boer sy grond- en waterbronne benut. Dit verlaag ook arbeidskoste. Die stelsels kan vir enige gewas gebruik word.
Instandhouding
Die sproeiers word nie tussen die plante weggesteek soos by ander soorte besproeiing nie. Die boer kan dus dadelik sien wanneer ’n sproeier nie reg werk nie. Die sproeier kan dan maklik skoongemaak, reggemaak of vervang word.
Omdat die spilpunt kleiner is en homself aandryf, word dit blitsig opgerig. Daar hoef nie ’n elektriese koppelpunt te wees nie. Solank daar watertoevoer is, doen die spilpunt sy werk.
Indien die boer die nodige versieningstakies verrig, kan die spilpunt ’n leeftyd lank hou. Daar is min tot geen filtrering nodig vir die minispilpunt nie. Eenvormige watertoediening word maklik bewerkstellig.
Water sak vanaf ’n spilpunt oor die hele grondprofiel neer soos reën, wat ontkieming aanhelp. Dit is ook maklik om die minispilpunt met ’n dubbeldoelspuitpakket toe te rus – een vir ontkieming en een vir groei.
Met ’n drupstelsel, wat gewoonlik die alternatiewe besproeiingsmetode is, moet jy gereeld chemikalieë gebruik om konsentrasies van minerale wat die druppers verstop, op te los, asook om skade aan ondergrondse pyplyne weens wortelindringing te bekamp.
By hierdie spilpunte is daar geen probleme van dié aard nie. Watertoediening van bo af beteken egalige verspreiding oor die hele oppervlak. Die vorming van soute word in toom gehou deur dit uit die wortelsone te spoel.
Reinke is een van die grootste spilpuntvervaardigers in private besit ter wêreld. Hierdie Amerikaanse maatskappy het die afgelope paar jaar na Afrika uitgebrei. Sy Durbanse pakhuis word gebruik om voorraad vir Afrika-boere aan te hou.
Reinke-agentskappe in Suider-Afrika is nie net toegerus om Afrika-boere te help om hul spilpuntbesproeiing te beplan nie, maar hulle kan ook die spilpunte oprig en tegniese ondersteuning aan boere verskaf.
Benewens die agentskappe het Reinke ook bemarkers om die produkte aan die Afrika-landboumark bekend te stel.
Reinke is trots op die innoverende ontwerp van die spilpuntstruktuur om instandhoudings- en bedryfskoste te verminder, en om die gebruiksduur van die besproeiingstelsel te verleng.
NAVRAE: Web: www.reinke.com