
Boordboerdery kan ’n winsgewende praktyk wees mits dit intensief bestuur word. Opbrengste kan egter beperk word deur strestoestande en omstandighede waar die gewasse hul energie en hulpbronne moet gebruik vir oorlewing pleks van vrugteproduksie. Vogstremming, wisselende grondtemperature, probleme met bestuiwing, plae en onkruid is voorbeelde van faktore wat ’n nadelige impak op produksie kan hê.
Die goeie nuus is dat dekgewasse wel mettertyd bewys het dat dit oplossings kan bied vir baie van hierdie boerderyprobleme.
Wat is 'n dekgewas?
’n Dekgewas kan enige plant wees wat geplant word vir die beskerming en verryking van grond, en sodoende kommersiële gewasse bevoordeel. Dit kan mettertyd ’n gunstige impak hê op die verbetering van grondvrugbaarheid, waterhouvermoë, onkruidbestuur, asook die bekamping van gronderosie, algemene siektes en plae. ’n Groot bydraende faktor tot die talle voordele wat dekgewasse bied, is die verhoging van biodiversiteit.
Biodiversiteit bo en onder die grond skep ’n geskikte habitat vir insekte en ander grondorganismes. Dit dra ook by tot verhoogde koolstof- en stikstofvlakke wat waterhouvermoë en grondvrugbaarheid bevorder. Die bogrondse groen materiaal dien as ’n sambreel vir die grondoppervlak en kan die grond teen temperatuurwisseling, erosie en verdamping beskerm.
Daar is ook ’n hele paar gewasse wat in kombinasie geplant kan word om bye te voed en roofinsekte, soos liewenheersbesies, te lok. Dié roofinsekte voed op nadelige insekte soos blaaspootjies. Bedryfskoste kan dus mettertyd beperk word met die doelgerigte bestuur van dekgewasse om te verseker dat boorde winsgewender word.
In ’n makadamiaboord het ’n meerjarige somermengsel wat bestaan uit witbuffel-, klein buffel- en rhodesgras, lusern en rolklawer ’n groot verskil gemaak. Die mengsel is in die werkrye geplant en die materiaal wat gesny is, is direk onder die bome gestrooi. In die proses is die grondoppervlak bedek, wat tot minder onkruiddruk op die boomrye gelei het.
Indrukwekkende kombinasies
Nog ’n suksesvolle meerjarige mengsel is ’n kombinasie van RTF-swenkgras en Duranawitklawer. Hierdie twee gewasse het ’n lae groeiwyse wat makliker bestuur kan word. Hulle kan ook in skaduwee goed groei en het die vermoë om boordtemperature tydens die warm somermaande met 2-3 ÆC te verlaag. Hou in gedagte dat hierdie tipe mengsel nie groot volumes materiaal produseer wat na die boomry geskuif kan word nie.
Aan die eenjarige kant is daar vele winter- en somerspesies. Oorweeg altyd ’n kombinasie van grasse, peulgewasse en knolle. Grassoorte dra grootliks by tot die biomassa wat die grond bedek om vog te bewaar en onkruid te onderdruk. Peulgewasse bind stikstof in die grond wat die bome en opvolgdekgewasse bevoordeel. Knolgewasse wat silindriese knolle in die grond vorm, is ideaal om verdigting te verminder.
Die bogenoemde voorbeelde van mengsels is ’n hulpmiddel oor hoe om te begin dink oor dekgewasse. Dit gaan steeds ’n leerproses wees om agter te kom wat die beste op jou plaas gaan werk omdat toestande baie wissel wat grond, klimaat en beperkings betref. Ongelukkig is daar nie ’n mengsel wat al die probleme gaan oplos nie. Besluit dus wat jy wil bereik en werk ’n program daarvolgens uit.
Mnr. Jean-Alex Swart is ’n tegniese bestuurder vir Barenbrug in die Oos- en Suid-Kaap.
NAVRAE: Web: barenbrug.co.za