
Die McCormick X8.680VT Drivetrekker het ’n kraglewering van 215 kW in Vlak 3-emissievrystellingskonfigurasie en is bestem vir die veeleisendste werk op die plaas. Die kragtige, brandstofdoeltreffende Betapower-enjin van 6,7 liter maak die X8.680- model die perfekte kombinasie van gerief en krag. Dit is ideaal vir skeur- en tandbewerking, ploeg en die aandryf van swaar werktuie.
Die enjin is toegerus met ’n eVGTturboaanjaer en direkte drukbuisbrandstofinspuiting, en is in ’n sterk raam gemonteer om geraas- en vibrasievlakke te verminder. ’n Ander sleuteleienskap is die vermoë van die trekker om teen ’n konstante spoed te versnel wat spoedkontrole in verskillende operasionele funksies moontlik maak en bydra tot optimale werkverrigting en doeltreffende brandstofverbruik.
Die palwissel-transmissie (VT-Drive) verseker lineêre en konstante vordering sonder ratgebruik omdat die keuse outomaties is. Die gebruik van die VT-Drive is onmiddellik: Die parkeerrem word net losgemaak, die operateur kies die rigting met die spoel, en versnel.
Volgens mnr. Ockert Scheepers, areabestuurder vir die westelike produksiegebiede by Argo Tractors Suid-Afrika, was die VT-Drive-ratkas nog altyd baie betroubaar, maar met die innoverende 4-stadium-tegnologie bied dit laer brandstofverbruik, ’n gladder ry-aksie en verhoogde doeltreffendheid. “Die palwissel-transmissie het nie kruip-opsies nodig nie omdat dit deurlopend krag oor veranderlike spoedreekse verskaf en uiteindelik brandstofverbruik verminder.”
Gekombineer met duidelike kontroles en ’n 12 duim-raakskermmonitor met ’n intuïtiewe koppelvlak, is die X8.680 maklik en aangenaam om te bestuur. Dit bied ’n gemaklike werkspasie vir lang ure in die sitplek, met uitstekende sig reg rondom en ergonomiese beheer van funksies via ’n sitplekgemonteerde konsole en ’n raak-kleurskerm.
Die presisiestuurstelsel gebruik satellietgebaseerde posisionering en ’n hoëverhouding- EasySteer-stelsel. Deel van die kragpakket is ’n 212 liter/min. geslotestelselhidrouliese pomp wat vloei lewer na die driepunt en tot ses elektronies beheerde hidrouliese afstandkleppe.
“Dit beteken dat die pomp altyd die presiese hoeveelheid olie lewer wat die stelsel nodig het en dus kragvermorsing uitskakel. Dit verbeter nie net die algehele werkverrigting van die trekker nie, maar verseker ook ’n lang lewe vir die hidrouliese stelsel, want die hidrouliese olie is apart van die ratkasolie wat kontaminasie verhoed.”
Die Isobus-stelsel op die X8.680 laat direkte kommunikasie met die werktuie toe. Al die werktuie kan via Isobus vanuit die gerief van die kajuit beheer word. Dit verhoog die doeltreffendheid van die hele produksieproses.
Tevrede boere
Mnr. Louis Claassen bedryf ’n gemengde boerdery by Christiana en Hartswater. Hy het onlangs sy tweede McCormick X8.680 gekoop en sê wat waarde vir geld betref, is dié trekkers vandag die beste op die mark. Volgens Claassen is dit by uitstek geskik vir skeurbewerking, grondvoorbereiding en plant.
“Die tegnologie en krag wat die McCormick X8.680 bied, is uitsonderlik. Ek voel dat ek werklik waarde kry vir my belegging. Ek waardeer ook die tegniese ondersteuning wat ons van die handelaar ontvang.”
Mnr. Hennie van Huyssteen boer op die plaas Vlakplaas naby Lindley in die Vrystaat. McCormick-trekkers is al jare lank deel van sy boerdery. “Daar is ’n model vir elk van ons behoeftes. Die werkverrigting van die trekkers maak boerdery baie makliker. Die trekkers kan al die werktuie op die plaas met gemak hanteer.”
Volgens Van Huyssteen is die bedryfskoste van die McCormick- trekkers nie buitensporig nie. Die brandstofverbruik van veral die nuwe modelle met die outomatiese en VT-ratkasstelsels is uitstekend. Die maklike hantering van die trekkers in die lande beïndruk hom ook.
“Ek glo McCormick-trekkers is op gelyke voet met ander trekkerhandelsmerke in dieselfde klas wat betref tegnologie, gebruiksgemak, gerief en hantering, asook veiligheid. Die prys is redelik mededingend. Ek gebruik McCormick-trekkers omdat ek die handelsmerk ken en vanweë die uitstekende naverkopediens.”