Altesaam 12 renosterstropers het vanjaar reeds hul rieme styfgeloop, met vyf wat onlangs doodgeskiet is in die Kruger Nasionale Park (KNP).
Volgens mnr. Renold Thakhuli, woordvoerder vir Sanparke, is drie stropers verlede week dood na ‘n skietgeveg met wildbewaarders by die Krokodilrivierbrug in die KNP.
“Twee verdagtes is ook gister (11 Januarie) naby die Pretoriuskop-kamp doodgeskiet. Verskeie wapens is in hulle besit gevind,” vertel Thakhuli.
Sewe in Noordwes
Intussen sê luit.kol. Lesego Metsi sewe verdagtes het op 11 Januarie in die hof verskyn nadat hulle aangekeer is in verband met die doodmaak van vier renosters op ‘n private wildreservaat in die Hartebeesfontein-omgewing. Die mans is deur die loop van verlede week wyd aangekeer, met een verdagte so ver soos Hammanskraal.
“Hulle word tans aangekla van die stropery van die vier renosters, maar hulle is vermoedelik by verskeie voorvalle in die Noordwes betrokke,” aldus Metsi. Die verdagtes verskyn weer op 18 Januarie in die hof om vir borg aansoek te doen.
Een dier elke 26 uur
Intussen sê mnr. Pelham Jones, voorsitter van die Private Renostereienaars-vereniging, hulle is baie bekommerd oor die groot aantal diere wat verlede jaar doodgemaak is vir hul horings. Volgens Sanparke is 333 diere verlede jaar gedood, en Jones sê dit beteken een renoster is elke 26 uur doodgemaak.
Lees ook:
Renosterstropery kos R200 miljoen
Hy sê sedert 2000 het die land sowat 650 renosters verloor, wat konserwatief bereken op ‘n verlies van R250 miljoen te staan kom vir die renosterbedryf. “Ons is baie bekommerd oor die toename. Tot 2006 is tussen 10 en 13 diere per jaar doodgemaak. In 2008 het dié getal na 83 gestyg, in 2009 was dit 122 en nou 333.”
Lees ook:
Die groot vier en ‘n half?
Jones sê hulle as private eienaars meen die Regering moet baie meer aggressief optree om dié misdaad hok te slaan. “Hoewel ‘n groot aantal arrestasies gemaak word, is die vervolgingsyfer slegs tussen 1% en 3%.”
“Op die langtermyn doen dit ook skade aan die land se toerisme. Besoekers kom hierheen om die groot vyf te sien, maar met soveel eienaars wat renosters se horings vir veiligheidsredes self verwyder, word dit nou die groot vier en ‘n half.”
12 Januarie 2011