Altesaam 2000 veeartse van regoor die wêreld is vandeesweek in Kaapstad vir die 30ste Wêreld Veeartskongres.
Altesaam 2000 veeartse van regoor die wêreld sak dié week op Kaapstad toe vir die 30ste Wêreld Veeartskongres. Luidens ‘n verklaring is dit die mees uitgebreide wetenskaplike veearts tentoonstelling wat nóg op die Afrika-kontinent plaasgevind het.
Die kongres is geopen met ‘n kort film oor die lewe van dr. Jotello Soga, ‘n Xhosa man wat Suid-Afrika se eerste veearts was. Soga het ‘n leidende rol gespeel rakende die behandeling van Runderpes. Hy het sy graad in 1886 aan die Universiteit van Edinburgh in Brittanje verwerf. Verskeie van sy artikels het in wetenskaplike publikasies verskyn, hoewel hy nie ‘n voltydse posisie in die Kaapse Koloniale Administrasie beklee het nie. Hy het in 1906 in die ouderdom van 41 gesterf.
Versorg diere, gesonde gemeenskappe
Vanjaar se tema fokus op die versorging van diere wat ‘n gesonde gemeenskap tot gevolg sal hê. Wêreldwyd word tans sowat 70 miljard stuks pluimvee, 12 miljard beeste, skape en bokke, en 1,5 miljard varke aangehou. Troeteldiergetalle staan op 223 miljoen honde en 220 miljoen katte.
Die kongres dien ook as die afsluitingsfunskie vir Wêreld Veearts Jaar wat hierdie jaar plaasvind. Die beroep is dié jaar 250 jaar oud. Die Suid-Afrikaanse Veeartsenykunde-vereniging is vanjaar 108 jaar oud.
Die kongres sal ook fokus op die maatskaplike rol wat ‘n veearts, hetsy of ‘n troeteldier- of produksiedierveearts of veeartse wat in wilde diere spesialiseer, in sy gemeenskap kan vertolk.
Siekte-uitbrekings
Dr. Anthony Erasmus, kongresvoorsitter, sê tydens die kongres sal daar gefokus word op siekte uitbrekings onder produksiediere, oorgrens siektebeheer, voedselsekerheid en openbare gesondheid.
“Vanuit ‘n nasionale perspektief binne Suid-Afrika is hierdie ‘n baie belangrike kongres, omdat veeartse meer as een verantwoordelikheid het: om die gesondheid van diere te beskerm en om na die welstand van menselike gesondheid op ‘n globale vlak om te sien,” aldus Erasmus.
11 Oktober 2011