“Gunstige boerderytoestande kan van 2012 ‘n meer suksesvolle jaar as die vorige drie jaar maak.”
Mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder vir Absa Agribesigheid, voorspel dat die komende jaar “ ’n goeie een gaan wees” weens verwagte goeie weerstoestande en relatiewe stabiele en hoë kommoditeitspryse.
Tydens ‘n mediafunksie in Johannesburg het hy gesê die stabilisering van die wêreldvoedselvraag en ‘n moontlike swakker rand sal ook bydraende faktore wees.
“Oor die afgelope drie tot vyf jaar het boere onder ‘n kosteknyptang gebuk gegaan weens aansienlike stygings in insetkostes. Dit het druk geplaas op winsgewendheid. Sou die verwagte voordele vir Suid-Afrikaanse produksie in 2012 realiseer, sal dit winsvlakke veilig hou vir rolspelers binne die bedryf,” aldus Janovsky.
Hy sê verder dit is duidelik dat die winsgewendheid van die land se landbousektor toeneem, en dit lei tot ‘n stabiele styging in eiendomswaarde van plase.
Tegnologie
Janovsky verwag verder dat die bedryf ook groot voordele gaan trek uit die toename in die gebruik van nuwe tegnologie vir landbouproduksie. Hy sê dit blyk dat Suid-Afrika, veral in terme van Afrika, die land is waarbinne die gebruik van nuwe tegnologie die vinnigste toeneem.
Hy fokus veral op die gebruik van bio-tegnologie in spesifiek die bosbou- en skaapbedrywe. Suksesvolle genetiese ontwikkeling het al gelei tot ‘n verkorting van ‘n boom se groeijare met tot vier jaar, terwyl bome al hoe sterker teen siektes word.
Wat die skaapbedryf betref, verwys Janovsky na die ontwikkeling van ‘n merinogeen wat tot groter en sterker diere lei. Dít beteken dat ‘n boer meer vleis beskikbaar het. Verder dra die geen ook by tot beter en fyner wolproduksie.
5 Desember 2011