
In ’n optimistiese vooruitskouing op die kongres van Agri Noord-Kaap het dr. Roelof Botha, ’n ekonomiese raadgewer, gesê Suid-Afrika kan spreekwoordelike reën op die vlak van die politiek en ekonomie verwag.
“Ons gaan in Desember ’n verandering in die uitvoerende politieke leierskap kry. Na my mening sal enige nuwe leier beter as die huidige president wees, selfs Donald Duck,” sê hy. “As dit mnr. Cyril Ramaphosa is, wag daar na verwagting vir Suid-Afrika oor die volgende paar jaar ’n goeie tydperk. Hy sal beslis ’n beleid van deregulering navolg en sal korrupsie vasvat.”
Daling in rentekoers
Volgens Botha is wesenlike rentekoersdalings een van die ekonomiese vooruitsigte wat die koste van kapitaal sal laat daal.
“Dit is goeie nuus vir boere en verbruikers wat alle produkte van ’n brood tot ’n Mercedes goedkoper sal maak. Ons vind ook dat ons handelsvennote teen ’n hoër tempo begin groei. Ek het ’n gevoel dat 2018 ’n baie goeie jaar vir ons gaan wees, veral as Ramaphosa wen,” het hy gesê.
Hy het boere aangeraai om die heersende probleme in Suid-Afrika die hoof te bied deur hulle by die georganiseerde landbou en instellings te skaar wat hul belange op die hart dra, die Grondwet handhaaf en die private eiendomsbesit voorstaan.