
Lede van die Wes-Kaapse blitspatrollie het na aanleiding van inligting wat hulle ontvang het na die plaas gegaan waar hulle op 'n groot daggaplantasie en verwerkingsaanleg afgekom het.
Volgens kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het die ondersoek van die perseel tot die inhegtenisneming van 25 verdagtes tussen die ouderdom van 18 en 55 gelei.
Daar is ook beslag gelê op daggaplante en ’n groot hoeveelheid dagga wat reeds vir die mark voorberei was. Weens die groot hoeveelheid plante en verwerkte dagga waarop daar beslag gelê is, moet die waarde daarvan nog vasgestel word.
Paarl Pos berig dat duisende rande in kontant asook vuurwapens ook op die perseel gevind is.
Die verdagtes verskyn Maandag 25 April in die Paarl-landdroshof op aanklag van dwelmhandel. Intussen sal speurders van die Wes-Kaapse polisie die omstandighede rondom die saak verder ondersoek. Volgens Traut is dit moontlik dat verdere verdagtes in hegtenis geneem kan word.