Suid-Afrika het voorgeneem om ‘n bykomende 400 000 ton mielies na Meksiko uit te voer, wat ‘n plaaslike tekort kan veroorsaak.
Luidens ‘n berig op Fin24.com loop Meksiko onder erge droogtes deur. Dié uitvoer kan tans ‘n tekort in die bemarkingseisoen veroorsaak, wat die land se voedselpryse verder opwaarts sal druk.
Suid-Afrika het reeds sowat 1 miljoen ton mielies na Meksiko uitgevoer tydens die bemarkingseisoen wat in Mei 2011 begin het. Volgens ‘n plaaslike handelaar is uitvoerpermitte vir 150 000 ton mielies reeds uitgereik, maar Meksikaanse kliënte het glo reeds bestellings vir 400 000 ton mielies geplaas.
Drie weke gelede
Luidens die berig het ‘n handelaar gesê dié transaksie het glo sowat drie weke gelede plaasgevind, toe Suid-Afrikaanse mielies baie goedkoper as Amerikaanse of Argentynse mielies verhandel het.
Dié uitvoere kan ‘n tekort in Suid-Afrika veroorsaak, wat al reeds vir dié seisoen mielies van Romenië af moes invoer. Die land verbruik gewoonlik tussen agt en nege miljoen ton mielies per jaar, en verlede jaar se oes het op 10,3 miljoen ton ingekom. Volgens die staat se data het die land in die huidige bemarkingseisoen reeds sowat 2,3 miljoen ton mielies uitgevoer.
Bron: Fin24.com
26 Maart 2012