Landelike beveiliging in Gauteng het ’n groot hupstoot gekry met 500 nuwe voertuie wat aan die Polisie oorhandig is, sê Agri SA. Luidens ’n verklaring het genl. Bheki Cele, polisiehoof, Vrydag (1 April) die voertuie aan die provinsie oorhandig om dienslewering te verbeter en as deel van die provinsie se polisiëringstrategie.
Altesame 67 van die voertuie sal vir landelike blitspatrollie-eenhede aangewend word, bykomend tot die voertuie wat vir sektorpolisiëring aangewend word. Cele sê ook ’n bedrag van R1,1 miljard is in die 2011/’12-begroting opsy gesit om nasionaal nuwe voertuie aan te koop.
Verwelkom
Mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se landelike beveiligingskomitee, sê: “Die boeregemeenskap in die provinsie verwelkom en ondersteun hierdie inisiatief.”
Hy sê die stap moet as een van die eerste stappe in die in werkingstelling van die landelike beveiligingstrategie gesien word. Die strategie moet die polisie ondersteun om onder meer dienslewering te verbeter, sigbare polisiëring in landelike gebiede te verhoog en om reaksietye te verkort.
“Ons hoop die toename in voertuie sal ’n groot bydrae lewer om misdaad in die provinsie te voorkom. Die boerderygemeenskap in Gauteng is gefrustreerd met die hoë voorkoms van gruweldade wat teen hulle gepleeg word.
"Die grusaamste van hierdie dade is geweldsmisdade, soos moord en gewapende rowe wat met ’n groot mate van wreedheid gepaardgaan. Gauteng word die swaarste getref deur misdaad en met verhoogde polisie sigbaarheid kan die prentjie omgedraai word. Misdadigers sal gou agterkom dat hulle nie meer welkom in die provinsie is nie,” sê Botha.
Met dié voertuie sal polisielede ook misdaadtonele vinniger kan besoek, wat tot groter doeltreffendheid in die opvolg van leidrade kan lei.
4 April 2011