Sowat 500 werkers van Early Bird se plaas by sy Olifantsfontein-aanleg staak oor ‘n loongeskil, sê die Food and Allied Workers’ Union (Fawu).
Me Dominique Schwartz, woordvoerder vir die vakbond, sê die werkers eis ‘n 8%-verhoging, terwyl Astral Foods Limited op dié stadium 6,5% aanbied.
Volgens Schwartz is die werkers ook ontevrede oor die groot aantal tydelike personeel wat by die maatskappy werk. “Hulle eis dat van die vakante poste met dié mense gevul word, want van hulle werk al vir meer as 10 jaar op ‘n tydelike basis by die aanleg.”
Derde van werkerskorps
Intussen sê die maatskappy in ‘n verklaring die groep stakers is sowat ‘n derde van die werkerskorps by die aanleg, en die staking “het nie die produksie by die aanleg te erg geraak nie”.
Mnr. Len Hanse, van die maatskappy se menslike hulpbronne-afdeling, sê die staking het reeds op 24 November begin, en hy hoop dat die geskil binne die volgende twee dae bygelê kan word. Hy wou nie inligting oor die werkers se eise of die maatskappy se aanbod bekendmaak nie.
Astral sê hy is vol vetroue dat die geskil opgelos kan word aangesien die gaping tussen die werkers se eise en die maatskappy se aanbod verklein het. Die onderhandelinge duur voort.
3 Desember 2010