Sedert die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche, voormalige leier van die AWB, op 3 April verlede jaar op sy plaas naby Ventersdorp, is 51 boere op hul plase vermoor, sê die TLU SA. Luidens ’n verklaring het 77 plaasaanvalle in dieselfde tydperk voorgekom.
Volgens die organisasie se statistieke het 16 plaasaanvalle, waartydens agt boere vermoor is, tussen 1 Januarie en 31 Maart vanjaar voorgekom. Die TLU SA sê hy probeer dié syfers so volledig moontlik byhou, maar die getal moorde is moontlik hoër as wat dié statistieke aandui.
Die boere wat vanjaar vermoor is, is mnr. Kobus van Rooyen, mev. Wendy Wilken, mnr. Deon van Staden, mev. Babs Strecker, me. Georgie Jacklin, mnr. Frik Hermann, mnr. Frans Eric Powell en mnr. Alberto Costa.
Ses per maand
“Dit beteken dat daar gemiddeld meer as ses plaasaanvalle per maand plaasvind en gemiddeld meer as vier boere maandeliks op hul plase vermoor word, op grond van die statistieke van die laaste jaar,” sê mnr. Henk van de Graaff, assistent-hoofbestuurder van die TLU SA.
Mnr. Ben Marais, voorsitter van dié organisasie, sê dié statistieke is onrusbarend hoog: “Ons herhaal ons eis dat plaasaanvalle as ’n aparte misdaadkategorie verklaar moet word en afsonderlik ondersoek moet word. Dit is nié gewone misdaad nie en behoort deur spesiale kundiges ondersoek te word, veral om die ware motiewe daaragter te bepaal.”
Skiet die boer
Die organisasie meen dat die sing van sekere liedjies, soos “Kill the boer, kill the farmer” – waarvoor mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga bekend is, ’n invloed het op die gewelddadige gedrag teenoor boere.
Die TLU SA het met die oog op sy hofsaak oor dié kwessie teen Malema, ’n peiling op sy webtuiste, www.tlu.co.za, gepubliseer om die mening van die publiek in dié verband te meet. Hy vra belangstellendes om die opname se vraelys voor 9 April vanjaar te voltooi, omdat die saak op 11 April vanjaar in die hof voorkom.
4 April 2011