Altesaam 53 myne word sonder geldige waterlisensies bedryf, met drie wat nog nie eens om lisensies aansoek gedoen het nie, sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Die party sê dit is minder as die 69 myne in 2011 en die 125 myne in 2010. Die DA wil egter steeds weet hoe enige myn toegelaat kan word om in bedryf te wees as dit nie toestemming het om water te gebruik nie, veral as die gebruikte water in waterbronne teruggepomp word.
Me. Edna Molewa, Minister van Waterwese, het in antwoord op vrae deur die DA gesê dié 50 lisensies waarom wel aansoek gedoen is, word verwerk. Twaalf van dié myne is wel gevra om verdere inligting te verskaf voordat die verwerking van hul lisensies kan voortgaan.
Tree op
Mnr. Gareth Morgan, woordvoerder vir die DA, sê dit is moeilik om te sien hoe Molewa ooit die moed sal hê om ’n lisensie af te keur. Hy sê die departement verkies blykbaar die proses waar die riglyne aan myne sonder lisensies gestuur word en dan word hulle aangemoedig om om lisensies aansoek te doen om hul sake reg te stel.
Morgan sê vrae bestaan ook oor die deeglikheid van die proses wat gevolg word om te besluit of ’n lisensie goedgekeur moet word. Hy sê die minister moet die geloofwaardigheid van die proses verdedig deur lisensies af te keur van dié myne wat nie kan aandui dat hul bedrywighede die omgewing nie skade sal berokken nie.
Waterrade
Intussen sê me. Marthie Wegner, ’n verteenwoordiger van die DA, die bestuur van die 12 waterrade in die land word bedreig deur munisipale skuld van sowat R2,1 miljard. Wegner sê die rade is verantwoordelik vir die bestuur van die land se waterinfrastruktuur. Sonder die nodige geld word die hele land se skoon drinkwater bedreig.
Sowat 90% van dié uitstaande bedrag word aan drie waterrade geskuld. Die waterraad wat die ergste geraak word, is Sedibeng Water. Die Matjhabeng-munisipaliteit het die raad teen September 2011 sowat R470 miljoen geskuld.
Die Mopane-distriksmunisipaliteit se rekening aan die Lepelle Noordelike Waterraad het terselfdertyd op R189 miljoen gestaan. Die Bushbuckridge-munisipaliteit se skuld aan die Bushbuckridge-waterraad het toe op R214 miljoen gestaan.
Wegner sê hoewel die departement stappe aangekondig het om munisipaliteite te dwing om agterstallige rekeninge te betaal, moet die hulp van die Tesourie ingeroep word om meer druk op die munisipaliteite te plaas.
20 Maart 2012