
Mnr. André Basson en sy vrou, Cathy, is ongeveer 07:00 by hul huis op die plaas Mama in die Ida-Indwe-omgewing aangeval.
“Dit is met groot hartseer en frustrasie dat ek verslag moet doen van nog ’n sinnelose en barbaarse aanval op ’n lid van die landbougemeenskap,” het mnr. Peter Cloete, voorsitter van Agri Oos-Kaap, in ’n verklaring gesê.
Die twee aanvallers het Basson genader terwyl hy in die tuin gewerk het. Hulle het voorgegee dat hulle werk soek en hom toe sonder waarskuwing met ’n panga en ’n kierie begin aanval.
Basson het terugbaklei en huis toe gehardloop om hom en sy vrou binne toe te sluit. Die aanvallers het sonder sukses probeer om toegang tot die huis te kry. Cloete sê hulle het gevlug omdat hulle geweet het hulp uit die gemeenskap was op pad.Basson is verskeie ernstige wonde toegedien en ontvang mediese sorg. “Ek is uiters dankbaar dat mev. Basson ongedeerd deur die beproewing gekom het.”Onder druk
Die aanvallers is nog op vrye voet. Cloete sê Agri Oos-Kaap sal nou met die owerhede bly saamwerk en enige hulp waar nodig aanbied om die misdadigers voor die gereg te bring.
Hy het ’n beroep op die polisie gedoen om met volle regskrag op te tree en enige middele wat nodig is, in te span om die misdadigers vas te trek.
“Ons bevind onsself in ’n uiters wisselvallige ekonomiese klimaat met die landbou wat druk uit alle oorde voel. Die absolute minste wat ons regering en wetstoepassingsagentskappe vir ons kan doen, is om vir ons ’n veilige plek te bied om te lewe en sake te doen.”“Siende dat minister (Bheki) Cele (minister van polisie) nóg ’n jaar misluk het om die nasionale landelike veiligheidsplan in werking te stel, doen ek ’n beroep op elke boer en lid van landelike gemeenskappe om saam te staan en te help om hierdie misdadigers voor die gereg te bring. Maar ook om planne in werking te stel om te voorkom dat nog ’n onskuldige gemeenskapslid ervaar wat die Basson-familie en soveel ander moes verduur.”