
Nuwe optimisme heers noudat webwerwe wat weervoorspellings intyds doen, voorspel dat die winterreëngebiede van die Wes- en Noord-Kaap teen 7 Junie ’n outydse duim reën kan verwag.
“Dit sal nog betyds wees,” sê mnr. Neels Welman, hoofbestuurder van Wes-Kaap Graanprodusente Edms. Bpk. op Malmesbury. “Ons is gewoonlik eers ten die einde van Mei klaar geplant, en dis nie die eerste keer dat die reën so laat kom nie.”
Toe dit in 1996 so laat gereën het, het boere in die gebied op die ou end goeie oeste behaal, dog Welman meen die reën moet darem nie later as die eerste week in Junie kom nie. “As dié reën nie voorspel is nie, sou ons bekommerd wees.”
Vyf jaar van laat reën
Mnr. Richard Krige van die plaas Boontjieskraal, Caledon, en bestuurslid van Graan SA, sê dis nie ’n kwessie of boere kan uithou tot die reën volgende week kom nie, hulle moet net. Hy sê die reën kom die afgelope vyf jaar eers tussen 2 en 10 Junie. “Ons moet eintlik Desember drie keer na mekaar hê en dan die jaar her-instel.
“Ons moet ons boerdery- en wisselboustelsels vertrou. Ons het tog die laaste paar jaar goeie oeste behaal met wisselvallige en klein hoeveelhede reën.” Al bly Krige optimisties, besef hy dat die droë somer en herfs probleme met onegalige ontkieming, onkruid en opslagkoring in die gars kan inhou.
“Onegalige ontkieming kan lei tot ongelyke groei en rypwording en uiteindelik die platsny- en oesprosesse bemoeilik.” Hulle sal swaarder moet staatmaak op na-opkomsmiddels omdat hulle nie vooropkomsbekamping van onkruid kon doen nie.