Droogte in die Horing van Afrika het sowat 8 miljoen mense sonder kos en water gelaat, sê Britse ondersteuningsgroepe.
Luidens ’n berig op News24.com sê die Konsortium van Britse Humanitêre Verenigings (CBHA) dié getal kan skerp styg as finansiële hulp na dié lande nie vinnig toeneem nie.
“Die huidige droogte het die potensiaal om so erg soos die een van 2009 te wees as nie vinnig opgetree word nie,” aldus die konsortium.
Die organisasie sê in ’n verklaring in 2009 het meer as 20 miljoen mense in Kenia, Somalië, Etiopië, Uganda en Eritrea lewensgevaarlik lae vlakke van voedsel- en watervoorrade ervaar.
Politieke onrus
Mnr. Sean Lowrie, die direkteur van die organisasie, sê die agentskappe wat gewoonlik geld aan die lande vir die doel voorsien, word tans ook om hulp genader weens die politieke onrus en die krisisse in Libië en die Ivoorkus. Duisende mense het reeds hul huise verlaat opsoek na water en kos vir hul vee na dié gebied se oeste deur hoë water- en weidingtekorte getref is.
Die oorloggeteisterde Somalië ervaar tans ’n groot krisis en 32%, oftewel 2,4 miljoen, mense het humanitêre bystand nodig.
Eweneens ervaar sowat 2,8 miljoen mense in Etiopië ook kos en waternood.
28 April 2011
Bron: News24.com - http://www.news24.com/Africa/News/Drought-worsens-East-Africa-hunger-20110427