Besteding aan advertensies op die internet kan besteding aan drukmedia-advertensies in 2012 in Amerika klop, hoewel Suid-Afrika nog ver agter dié neiging is.
Luidens die webwerf eMarketer kan aanlyn-advertensies in Amerika vanjaar $39,5 miljard (R320 miljard) beloop, teenoor die verwagte besteding van $33,8 miljard (R272 miljard) in tydskrifte en koerante.
Luidens ‘n studie kan aanlyn-advertensiebesteding in Amerika vanjaar weer met 20% groei, soos wat die internet sy waarde aan adverteerders in ‘n taai ekonomiese klimaat bewys.
In Suid-Afrika lyk die prentjie heel anders. In 2010 is advertensies ter waarde van R702 miljoen op die internet uitgeneem teenoor die besteding van sowat R9,2 miljard in tydskrifte en koerante saam. Sowat R14,5 miljard is vir advertensies op televisie opgedok, terwyl advertensies van R4,3 miljard op radio bespreek en betaal is, aldus Nielsen adDynamix.
Die grootste groei in plaaslike advertensiebesteding in 2011 was op die internet en radio, elke met ‘n toename van 25%. Tydskrifte se advertensie-inkomste het met 2% gestyg, aldus Nielsen.
Bron: www.emarketer.com
1 Februarie 2012