
Organisasies wat boere en ander grondeienaars in KwaZulu-Natal en die Vrystaat verteenwoordig, vier die nuus dat Rhino Oil and Gas Exploration South Africa glo sy aansoek 346ER om die reg om ongeveer 1 miljoen ha vir olie- en gasreserwes te verken, teruggetrek het. Hierdie oppervlakte bevat ongeveer 6 060 plase.
In ’n brief aan Moolman en Pienaar-prokureurs bevestig adv. Thabo Mokoena, direkteur-generaal van die departement van minerale hulpbronne en energie, dat die maatskappy sy aansoek teruggetrek het. Dié regsfirma verteenwoordig boere, grondeienaars en ander belanghebbendes wat die aansoek teenstaan.
Me. Clarissa Pienaar, een van die regsfirma se direkteure, het aan Landbouweekblad gesê Rhino se aansoek 350ER om ongeveer 773 259 ha met 4 268 plase, meestal in die Vrystaat, te verken, is nie teruggetrek nie.
Luidens ’n kennisgewing uitgereik deur SLR Consulting, wat deur Rhino aangestel is om die omgewingsimpakstudie te onderneem, strek aansoek 350ER vanaf die Bo-Tugela in KwaZulu-Natal noord verby Harrismith tot net noord van Warden in die Vrystaat, wes van Harrismith tot by Bethlehem, en van Warden tot by Lindley.
“Ons meen aansoek 350ER moet sekerlik die weg van aansoek 346ER volg. Ons is in gedingvoering om te probeer om mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, te dwing om nou oor die 350ER-aansoek te beslis, soos wat hy in die geval van 346ER gedoen het.”
Aansoeke deur maatskappye om olie- en gasreserwes reg oor Suid-Afrika te ondersoek, en moontlik uiteindelik te ontgin, het sterk teenkanting ontlok van groot dele van die publiek, insluitend die landbousektor. Vrese is herhaaldelik geopper dat metodes wat gebruik kan word, insluitend hidrobreking, om sulke reserwes te ontgin, waarskynlik aansienlike, wydverspreide en potensieel onomkeerbare ongunstige impakte op varswaterbronne, landbouproduksie, die natuurlike omgewing en gemeenskappe binne sulke myngebiede kan hê.
Me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu), noem Rhino se terugtrekking van sy 346ER-aansoek ’n “beduidende oorwinning”.
“Kwanalu doen ’n beroep op die regering, belanghebbendes en relevante partye om weer ernstig te besin voordat hulle probeer om die landbou onder die druk van hidrobreking, mynbou en ander soortgelyke aktiwiteite te plaas. Voedselsekerheid, indiensneming, en veiligheid en sekuriteit in landelike gebiede is maar enkele van die bestanddele vir ’n veilige, groeiende ekonomie.”