
Boere se kwesbaarheid vir gewapende aanvalle is nie “uniek” nie. Dít is die bevinding van ’n studie wat die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) oor plaasaanvalle onderneem het. Volgens die navorsing kan plaasaanvalle per 100 000 boere met die aantal aanvalle deur misdadigers per 100 000 mense van die gewone bevolking vergelyk word.
Dié studie is gedoen met behulp van die statistiek wat die TLU SA oor plaasaanvalle byhou, aangesien die SA Polisiediens nie die data oor plaasaanvalle en –moorde publiseer nie. Luidens ’n verklaring is die syfers van aanvalle tussen 1994 en 2011 gebruik. Die SAIRR sê die analise van die statistiek is gekompliseer weens die wisselvalligheid van die aantal aanvalle wat jaarliks in dié tydperk voorgekom het.
Die meeste aanvalle
Volgens die statistiek het die meeste aanvalle in die tydperk in 2002 voorgekom, toe 229 aanvalle aangeteken is. In 1996 is 70 aanvalle aangeteken. Dit het verhoog tot 133 in 1999, terwyl dit verlaag het na 82 in 2004, net om weer te styg na 184 in 2008.
Die data is saamgestel uit aanvalle op plase en kleinhoewes wat gemik is op bewoners, werkers en besoekers aan plase en kleinhoewes. “’n Aanval word gedefiniëer as die voorneme om te vermoor, verkrag, roof, of om liggaamlike leed te veroorsaak en dit sluit alle aksies in wat daarop gemik is om boerdery aktiwiteite te ontwrig as ’n kommersiële bron van kommer,” lui die verklaring.
Aantal aanvalle per 100 000
Volgens die berekeninge het die aantal aanvalle per 100 000 boere en plaaswerkers in die formele sektor in 2011 op ’n koers van 16,8 te staan gekom. As aangeneem word dat plaaswerkers nie geteiken word nie, en dat die aanvalle gemik is op kommersiële boere en hulle families, is dié koers 45,8 per 100 000.
Die instituut merk op dat hoewel dit moeilik is om plaasaanvalle met ander tipes misdaad te vergelyk, dié statistiek wel vergelyk kan word met koerse per 100 000 van ander ernstige misdade wat die algemene publiek raak. In 2011 het Suid-Afrika ’n koers van 31,9 per 100 000 vir moord aangeteken, terwyl huisroof se koers 33,4 per 100 000 was. Die totale koers vir geweldadige roof was 203 per 100 000.
“Dié analise dui nie aan dat plaasaanvalle nie ’n probleem is nie,” aldus mnr. Frans Cronje, adjunk hoof uitvoerende beampte van die Instituut. “Dit openbaar eerder hoe kwesbaar alle Suid-Afrikaners vir geweldadige misdaad is.”