’n Man wat ’n boer uit sy plaashuis gelok en hom toe geskiet het, is 44 jaar tronkstraf opgelê.
Luidens ’n berig in Volksblad (30 Augustus 2011) sal die 32-jarige mnr. Francis Makata 20 jaar van dié vonnis moet uitdien.
Die koerant berig dat Makata ná die vonnisoplegging ’n woede-uitbarsting gehad het en mnr. Johan Visagie, die streeklanddros, sarkasties vir die vonnis “bedank” het. Hy het glo ook gesê dat hy op ’n eetstaking sal gaan.
Mense in die hofsaal kon glo hoor hoe Makata in die ondergrondse polisieselle te kere gaan. Dié vonnis was die einde van ’n drie jaar lange verhoor, waarin Makata skuldig bevind is op twee aanklagte van diefstal, twee van die onwettige besit van ’n vuurwapen en een van poging tot moord.
Die voorval
Die voorval het op 2 Maart 2008 op die 42-jarige mnr. Jurie Geldenhuys se plaas Doornspruit, ongeveer 20 km buite Kroonstad op die Viljoenskroonpad, plaasgevind.
Die voorval het gevolg ná Makata Geldenhuys en die 55-jarige mnr. Themba Mateza se wapens gesteel het.
Geldenhuys het vroeër die dag opgemerk dat sy selfoon weg was en hy het vermoed hy het dit verlê. Teen 18:30 het die krag in sy huis afgegaan en toe hy gaan ondersoek instel, het hy Makata by ’n hek sien staan.
Makata het aan hom die selfoon gewys, wat Geldenhuys as syne geïdentifiseer en geneem het. Geldenhuys het daarna na sy huis begin terugloop en hy is in die been geskiet. Hy kon op die vlug slaan en het oorleef.
Visagie het die voorval onder meer as sinneloos beskryf.
Bron: Volksblad
30 Augustus 2011