
AfriForum verteenwoordig 'n slagoffer van 'n plaasaanval om 'n uitsettingsbevel te kry teen sy aanvallers, wat onwettig op sy eiendom plak.
Die saak dien Donderdag, 18 September, in die Grondeisehof in Randburg.
Mnr. Martin Coetzee (82) is op Maandag, 26 Mei 2014, op sy plaas naby Belfast in Mpumalanga aangeval nadat hy onwettige besetters gekonfronteer het oor die feit dat dele van die plaasopstal afgebreek is vir boumateriaal. Coetzee is toe aan 'n paal vasgebind en ure lank met stomp voorwerpe aangerand. Sy arm is in dié aanval gebreek.
Luidens 'n nuusverklaring van AfriForum woon die aanvallers steeds op Coetzee se grond. Die organisasie het ook strafregtelike klagtes ingedien teen die polisiebeamptes wat na die toneel ontbied is nadat hulle deur die aanvallers geskakel is.
"Met hul aankoms op die toneel het die polisiebeamptes met die aanvallers begin gesels in plaas daarvan om hulle te arresteer," sê mnr. Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum. "Coetzee is ook geensins deur die polisie bygestaan nie en is met sy beserings op die toneel gelos sonder dat enige verklarings geneem is. Selfs nadat hy self na die polisiestasie gery het om klagtes in te dien, is die saak nie opgevolg nie."