
In 2030 sal meer as 70% van Suid-Afrika se bevolking verstedelik wees. Wat beteken dit vir die landbou? Johann Bornman van Agri Development Solutions (ADS) doen navorsing en 'n grondoudit met die samewerking van Landbouweekblad.
'n Kwessie van bepalende belang vir grondgebruik in Suid-Afrika is die faktor van die bevolkingsdigtheid en migrasie. Bevolkingsgetalle met 'n digtheid gemeet aan hektaar per persoon het vanaf 174 hektaar per persoon in die 1600’s (toe was daar na raming 700 000 mense in totaal in Suid-Afrika), progressief geskuif tot 'n verhouding van 2,2 hektaar in 2015. Dié verhouding gaan verder afneem tot 1,8 hektaar in 2030. (Sien Tabel 1 hieronder.)
Daarteenoor het verstedeliking van 23,4% in die vroeë 1920’s eksponensieel gegroei tot ongeveer 65% tans (totale bevolking geraam op 56,9 miljoen mense). Na verwagting gaan die bevolking in die RSA tot 66,9 miljoen in 2030 groei (wat 'n toename van 17,6% verteenwoordig) met 71,3% van die bevolking wat verstedelik.
Wat van landbougrond?Waar laat dit ons met landbougrond? As van die standpunt uitgegaan word dat 97,03 miljoen hektaar grond in die RSA geskik is vir boerdery-doeleindes (dit sluit in bewerkte en bewerkbare grond) dan was die verhouding in die 1600’s ongeveer 138,6 ha per persoon.
In 1946 het dié verhouding tot 8,5 hektaar afgeneem en verder gedaal tot 1,7 hektaar in 2015. Dit sal na verwagting sowat 1,5 hektaar per persoon in 2030 beloop.
Ten opsigte van kommersiële landbougrond was die verhouding in 1993 ongeveer 2,2 hektaar per persoon en na raming 1,05 hektaar per persoon in 2016. Indien die Regering se strategie vir grondhervorming tot uitvoer gebring word teen 30% van kommersiële grond tans in wit hande en 'nn mense neem aan dat 50% van die transformasiegrond produktief in produksie bly, dan neem die verhouding tot 0,76 hektaar per persoon af teen 2030. (Of, dit daal met 28,9% vanaf 2016 tot 2030.)
Grond uit produksieIndien transformasiegrond uit produksie gestel word, soos wat in die verlede gebeur het, verswak die verhouding tot 0,62 hektaar per persoon of met 41,5% (2030 teenoor 2016).
Die vraag is of dit moontlik is om voedselvoorsiening op dié basis in stand te hou? Die antwoord is: Kwalik.
Groot omsigtigheid is nodig met die verkryging van grond (lees landbougrond) nie alleen deur die Regering en mense van kleur nie maar ook alle ander dissiplines in die ekonomie.
Dis noodsaaklik dat om alle landbougrond in die RSA produktief te bedryf as die land selfvoorsienend vir sy voedsel wil bly. Die risiko van die strategie van grondhervorming en die implikasie in die gevalle van mislukking spreek vanself. Suid-Afrika kan dit gewoon op geen manier bekostig nie.
Lees meer oor Landbou.com en ADS se grondoudit-projek hier.
* Geskryf deur Johann Bornman, voorsitter van Agri Development Solutions. Kontak die skrywer by: jchb@mweb.co.za