
Die nuwe jaar het met ’n bulderende prysstyging vir aartappelboere begin, nadat voorheen voorspel is dat die gemiddelde prys nie sommer bokant R35 per 10kg sal klim nie.
Volgens Aartappels Suid-Afrika se statistiek het die gemiddelde prys vir ’n 10kg sakkie reg oor die land van R41,18 op 3 Januarie tot R51,75 op 9 Januarie gestyg. Die volume op nasionale markte het oor dieselfde tydperk halveer van 718 000 sakkies op 3 Januarie tot 359 000 op 9 Januarie.
Hael en ryp veroorsaak skade
Volgens mnr. Gerhard Posthumus, uitvoerende hoof van WesGrow-moerkwekers en tafelaartappel-bemarkers, was dit ongunstige weersomstandighede vroeër in 2015 wat te blameer is vir die laer voorsiening van aartappels op die nasionale markte.
“Tans is dit hoofsaaklik Vryburg- en Petrusburg-aartappels wat op die mark is. Vryburg het vroeër erg deurgeloop onder hael en die Petrusburg-area het erge ryp gehad, wat die produksie kleiner en later gemaak het. Dit is ook beduidend in die prysverskil tussen groot en medium aartappels dat die oes effens kleiner is. Dit gaan egter steeds goed, ondanks die hael- en rypskade.”
Reën welkom tot einde Februarie
Die goeie reën wat oor baie dele van die somerreëngebied uitgesak het, speel ook ’n rol, aangesien aartappelboere nie normaal kan oes in die nat weer nie. Volgens Posthumus behoort die prys bestendig te bly tot einde Februarie.
“Die Oos-Vrystaat is vir my altyd die bepalende faktor. Indien einde Februarie baie nat is en die droëland-boere moet stoei om goeie gehalte uit die grond uit te haal, kan ons dalk vuurwerke in die prys sien – ten koste van hierdie boere – maar dit is gevaarlik om ’n voorspelling te waag. Ons is egter versigtig optimisties dat ons die huidige seisoen sal kan afsluit op ’n gemiddelde prys van tussen R33 en R35 per 10kg aartappels,” sê Posthumus.