
Die landbou-beleggingsmaatskappy is onder die bestuur van Acorn Private Equity en fokus op belegging in Suider-Afrikaanse graan-, vleis- en vrugte-waardekettings. Acorn Agri se strategiese vernuf en kapitale ondersteuning plaas Montagu Droëvrugte en Neute binne bereik van sy mikpunt van 150 afsetpunte in die vernaamste inkopiesentrums teen 2016, luidens ’n mediaverklaring.
“Dis die begin van dinge waaroor ons skaars kon droom toe die maatskappy drie jaar gelede begin het met die vestiging van sy eie kleinhandelsnetwerk (Montagu Trading Company Franchise). Suid-Afrikaners se groeiende voorkeur vir ’n gesonder leefstyl en opwaartse kurwe in die vraag na droëvrugte en neute is byna oorweldigend, maar ons vennootskap met Acorn Agri gaan sneller, hoogs doeltreffende verspreiding meebring. Verbruikers kan boonop na heelwat nuwe produkte begin uitsien. Die handelsmerk is ook baie goed gevestig en die mooi oranje staan sommer sterk uit oral in die onderskeie winkelsentrums landswyd,” aldus mnr. Hannes Jansen Montagu Droëvrugte en Neute se besturende direkteur.
“Ons gaan die visier ook toenemend op buurlande begin rig. Die eerste sewe franchise-winkels in Namibië vaar uitstekend en dui op groot potensiaal verder noord. Ons het ook sopas ’n verteenwoordiger in Mauritius aangestel,” sê Jansen.
Buiten sy nuwe meerderheidsaandeel van 73,5% in Montagu Droëvrugte en Neute, het Acorn Agri, onder meer, belange in Overberg Agri en Lesotho Milling. “Montagu Droëvrugte en Neute se handelsmerk, produkreeks en verspreidingsnetwerk is van uitsonderlike gehalte en aantreklike geleenthede bestaan om dit te hefboom en verder uit te brei in Suider-Afrika. Acorn Agri het waardevolle ondervinding in die droeëvrugte sektor waarby Montagu Droëvrugte en Neute sal baat,” meen Acorn se direkteur, mnr. Gerhard Visagie.
Acorn Private Equity spog met ’n beleggingsprestasie van 39% per jaar en ‘n geskiedenis van waardeskepping in onderliggende belegginsmaatskappye.