
Opwinding bou op terwyl die Adelaide-viermanskap hulle voorberei om op vier Kawasaki KLW-motorfietse van Kaap Agulhas na Kaïro te reis ten bate van die plaaslike hospitaal.
Mnre. Rufus Dreyer, Richard Bennet, Norman Emslie en Stelios Georgiou het vroeër vanjaar onderneem om die avontuur aan te pak om geld in te samel vir ’n ekstra waterfasiliteit by die hospitaal, wat tot R1,2 miljoen kan kos.
Die hospitaal moet soms tydens droogte-tye van hul vleuels sluit weens ’n tekort aan water, aangesien water vir die hospitaal dan vir 52 km ver van die Visrivier af gepomp moet word.
Die groep vertrek op 31 Maart.
Finale voorbereidings
Die groep het die afgelope naweek bymekaar gekom om finale voorbereidings vir die reis te tref. Hulle het ’n vierrigting-radiostelsel in hul valhelms laat installeer sodat hulle tydens die reis met mekaar kan kommunikeer.
Emslie het die afgelope naweek ook by dr. Haggis Black, superintendent van die Adelaide-hospitaal, geleer hoe om ’n drip in te sit as een van die lede dit tydens die reis van 45 dae en 12 665 km nodig sou hê.
Die onluste?
Dreyer sê hulle het reeds hul visums vir Egipte ontvang, en hulle verwag vandeesweek nog hul visums vir Tanzanië en die Soedan.
Wat die onluste in die Soedan en Egipte betref, sê Dreyer: “Dis maar iets wat in ’n ou se agterkop is. Dis ’n werklikheid, en ons sal as ons daar kom die situasie moet opweeg en besluit of ons op die beplande roete kan voortgaan en of ons dalk ’n ander roete moet soek of die reis korter knip.”
Die Adelaide Round Table 194 hou volgende Vrydagaand (25 Maart) ’n steak-aand ten bate van die reis, en enige belangstellendes kan mnr. Danie Ferreira by danie_ferreira111@hotmail.com kontak. Die groep soek steeds na borge vir die reis:
Die bankbesonderhede is:
Bank – Eerste Nasionale Bank
Rekeningnaam – Adelaide Hospital Board of Aid (spaarrekening)
Rekeningnommer – 60152054446
Takkode – 210119
16 Maart 2011