
Die genoteerde voedselverwerker
Die maatskappy het onlangs bekend gemaak dat onderhandelinge oor ’n groot transaksie met ’n multinasionale maatskappy stopgesit is ná die graderingsagentskappe Standard & Poor’s (S&P) en Fitch se besluit om Suid-Afrika af te gradeer.
Die maatskappy sê in ’n verklaring aan aandeelhouers op die JSE-nuusdiens Sens dat dié gebeurtenis en die moontlikheid van verdere afgraderings veroorsaak het dat onderhandelinge oor die beoogde transaksie in hierdie stadium gestaak is.
Geen finale besluit
Pioneer het aanvanklik op 7 Maart sy aandeelhouers in ’n omsigtigheidskennisgewing ingelig dat hy genader is om te onderhandel oor ’n transaksie wat ’n invloed op die aandeelprys kon hê as dit aanvaar en deurgevoer word. Die maatskappy het toe gesê die onderhandelinge is in ooreenstemming met Pioneer se strategiese plan en dat die voordele van die voorgestelde transaksie ondersoek word, maar dat daar nog geen finale besluit deur die raad geneem is nie.
Weens ’n geheimhoudingsklousule kan die naam van die groot multinasionale maatskappy wat betrokke was of die waarde van die beoogde transaksie nie bekend gemaak word nie.
Pioneer Foods het net gesê die potensiële transaksie was byna afgehandel. As die tydsberekening vorentoe reg is en omstandighede stabiliseer, kan onderhandelinge dalk hervat word.