
Die Lenteskou word van 1 tot 6 September in Pretoria aangebied. As deel van Afgri se betrokkenheid beoog die maatskappy om sy volledige waardeketting aan huidige en potensiële klante bekend te stel.
“Vir die eerste keer gaan ál Afgri se sake-eenhede – van die plaas tot by die eindverbruiker – ten toon gestel word. Dit sluit in ’n Farm City en Town & Country-winkel waar ’n John Deere-klerereeks onder meer te koop sal wees,” het me. Wilna du Plessis, die maatskappy se bemarkingsbestuurder gesê.
Ál John Deere se produkte en toerusting sal in ’n groot buite-uitstalruimte uitgestal word en klante sal in ’n Afgri-markiestent langs die hoofarena informeel onthaal word. Vir die jongspan sal daar onder meer ’n springkasteel en trapkarretjies wees.
Die skou (voorheen die Pretoria-skou) lê vanjaar net op landbou klem. ’n Verskeidenheid perdesport, beeskampioenskapskoue en karkaskompetisies is reeds bevestig saam met die nasionale kampioenskapskoue vir Dorpers, Boerbokke en Damaras.