
Die Afgri-maatskappy Collateral Management International (CMI) het 'n ooreenkoms met Rwanda se ministerie van landbou en dierehulpbronne gesluit om bergings- en pakhuisdienste te lewer. Die dienste sal steun bied aan boerekoöperasies in die hele land.
Afgri het in 'n verklaring gesê CMI het hande gevat met die African Exchange Limited (Afex) en sy filiaal in Rwanda, die East African Exchange (EAX). Deur die EAX sal CMI 13 pakhuise bestuur wat die Rwandese regering in strategiese produksiegebiede opgerig het.
Benewens bergingsoplossings en –bestuur sal CMI ook 'n volledige kommoditeitsbestuursdiens lewer. CMI doen ook in Nigerië sake. Hier gaan die maatskappy vir Afex sewe bergingsterreine van die Nigeriese regering bestuur. Die terreine is in vyf state in die land se graangordel geleë.
Mnr. Chris Venter, hoof uitvoerende beampte van Afgri, sê die oplossings wat die maatskappy bied gee aandag aan die kern van die probleme wat baie boere ervaar: 'n onvermoë om die graan wat hulle geoes het, te berg en bemark.
“Saam met die regering, die EAX en die Afex kan CMI help met berging, die verifikasie van gehalte en hoeveelhede, en boere help om hul kommoditeit te bemark, sodat hulle die geld kan verdien waarvoor hulle hard gewerk het.”
CMI doen kollateraalbestuur op 100 terreine en lewer voorraadmoniterings- en inspeksiedienste by meer as 400 terreine in 14 Afrikalande.