Die Land Bank het Afgri se skuldboek finaal oorgeneem nadat goedkeuring uiteindelik deur die Mededingingsowerheid gegee is.
Die betrokke skuldboek, wat deur GroCapital handel dryf, het op 30 Junie vanjaar ’n totale waarde van ongeveer R2,4 miljard gehad. In daardie stadium was R1,886 miljard op die boek uitgeleen. Sedertdien het boere skuld gedelg, wat dié bedrag tot R1,4 miljard laat krimp het.
Die transaksie sal in paaiemente afgehandel word en die eerste paaiement beloop R1,4 miljard. Dit behoort die genoteerde landboumaatskappy se twyfelagtige kontantvloeisituasie gunstiger te laat lyk.
Afgri se jongste finansiële resultate het daarop gedui dat die maatskappy se kontantvloei veel te wense oorlaat. Waar die maatskappy twee jaar gelede ’n gunstige kontantvloeisaldo van R690 miljoen gehad het, het dit verlede jaar in 2010/2011 ’n ongunstige kontantvloei van R546 miljoen gehad.
Mnr. Chris Venter, hoof uitvoerende beampte van Afgri, sê die delging van dié skuld is belangrik vir die genoteerde landboumaatskappy.
“Die transaksie sal Afgri se hefboomverhouding en toegang tot finansiering verbeter en ons toelaat om toekomstige groeigeleenthede aan te gryp.”
“Die verkoop van die skuldboek het egter nou Afgri se skuld-ekwiteitsverhouding van 2,88 tot 1,68 verbeter,” sê Venter.
Die transaksie het nie net ’n goeie invloed op die graanreus se balansstaat nie, maar sal glo beteken dat Afgri nou bykomende finansiering aan boere kan verskaf sonder om sy balansstaat onder druk te plaas.
“Die transaksie bied groter sekerheid oor die wyse waarop Afgri boere in die toekoms kan dien.” GroCapital sal die boek namens die Land Bank bestuur en uitbrei.
24 Oktober 2011