Met ’n afname van 18% in Afgri Beperk se verdienste per aandeel, lyk dit asof dié landboudienstegroep die afgelope boekjaar (2010/2011) die wind van voor gekry het.
Mnr. Chris Venter, hoof uitvoerende beampte van Afgri, het egter by die bekendstelling van die groep se finansiële resultate in Johannesburg gesê die afgelope drie jaar van herstrukturering het nou ’n soliede grondslag gelê vir toekomstige groei.
Laer kommoditeitspryse
Die omset was R7,290 miljoen wat 2% méér is as die omset van R7,180 miljoen van die vorige jaar. Dit word toegeskryf aan laer kommoditeitspryse asook lae pryse vir veevoer en braaikuikens.
Terselfdertyd het die groep se koste van verkope met 4% gestyg wat die bruto winspersentasie (rente-inkomste uitgesluit) van 26% tot 25% laat krimp het.
Die afname van 18% in die verdienste per aandeel tot 62,9 sent per aandeel is onder meer die gevolg van die swakker kleinhandelsprestasie in Australië en in Suid-Afrika, ’n toename in die belastingkoers van 20% tot 23%, die konsolidering van die groep se SEB-minderhede en die boete wat deur die Mededingingskommissie opgelê is. Die groep se finansiële dienste-afdeling het egter sterk gegroei.
Die dienste-afdeling het ’n voorbelaste wins van R183 miljoen aangeteken, wat 38% minder is as die R282 miljoen vir die vorige boekjaar.
Kleiner markaandeel
Lae graanpryse het gelei tot ’n daling in kleinhandelverkope en boere het kleiner (laer kilowatt) trekkers gekoop met ’n verkleining van Afgri se markaandeel.
Afgri se finansiële dienste-afdeling se voorbelaste wins van R44 miljoen is 33% méér as die R33 miljoen vir verlede jaar. Die veevoer-afdeling se voorbelaste wins van R187 miljoen is 9% laer as die R205 miljoen vir verlede jaar.
Die nabelaste wins van voortgesette bedrywighede was R225 miljoen teenoor die R407 miljoen van die vorige boekjaar. Die verdienste per aandeel het met 18% gekrimp tot 62,9 sent per aandeel.
Dit was verlede jaar 76,8 sent per aandeel. Die groep se wins van alle bedrywighede vir die jaar was R190 miljoen teenoor die R305 miljoen van verlede jaar, wat ’n afname van 38% verteenwoordig.
Afgri eindig die boekjaar met ’n ongunstige kontantvloei van R546 miljoen teenoor ’n gunstige kontantvloeisaldo van R690 aan die einde van die 2010-boekjaar.
7 September 2011