Tydens die tweede dag (12 April) van die Gelyksheidshof se verhoor oor die liedjie “Skiet die boer” het mnr. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, onder kruisverhoor getuig hy meen mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, is ’n rassis.
Luidens ’n verklaring het Roets op Maandag (11 April) getuig dat Malema lede van AfriForum-jeug verlede jaar op ’n vergadering op (18 Maart) by Luthuli-huis met geweld gedreig het. Die ANC betwis egter dié feit.
Die Suid-Gautengse Hooggeregshof (sittend as die Gelykheidshof) het al aangehoor Malema het ’n massamoord beloof sou AfriForum voortgaan met ’n protesoptog na die ANC-hoofkantoor in Johannesburg.
Dié vergadering is deur die ANC-jeugliga geroep nadat Roets by hulle ’n bevestigingsbrief wou kry vir ’n protesoptog wat die volgende dag gehou sou word.
Laat vaar klag of . . .
Malema het glo op die vergadering geëis dat die haatspraakklag teen hom laat vaar word. Roets het glo geantwoord dat AfriForum dit sal laat vaar indien Malema verskoning vra dat hy die lied gesing het, asook nie meer liedjies sing wat rassehaat tussen Suid-Afrikaners aanwakker nie. Malema het glo geantwoord dat hy dit nooit sal doen nie.
Roets het genoem dat indien Malema nie so ’n bevestigingsbrief verskaf nie, hulle steeds buite die ANC-hoofkantoor sal betoog, maar sonder om ’n memorandum te oorhandig.
Malema het geantwoord dat, as AfriForum daarmee voortgaan, daar ’n herhaling sou wees van wat in 1994 met die (IVP) gebeur het toe hulle sonder die instemming van die ANC buite Inkata-vryheidsparty die ANC-hoofkantoor betoog het.
Tydens hierdie voorval, bekend as die Shell House-slagting, is 19 IVP-lede doodgeskiet.
AfriForum en die TLU SA poog om met die hofsaak dié lied, en ander wat soortgelyke woorde bevat, as haatspraak te verklaar. As die hof in hul guns beslis, kan beveel word dat Malema AfriForum en ander betrokke partye se regskoste moet betaal.
13 April 2011