
Beperkings op boere in Suid-Afrika kan dalk daartoe lei dat al hoe meer arbeidsintensiewe landboubedrywe na ander Afrika-lande verskuif waar omstandighede gunstiger is.
So het dr. Theo de Jager, president van die Suider-Afrikaanse konfederasie van Landbou-unies, by die graanhanteringsorganisasie van Suidelike Afrika (Gosa) se simposium op Mosselbaai gesê.
“Daar is sekere bedrywe wat algaande oor Suid-Afrika se grense begin kruip, soos die piesangbedryf wat Mosambiek toe geskuif het.
“Dit kon voorspel word, want daar is nie ’n piesangplaas in Suid-Afrika waarop daar nie ’n grondeis is nie, en sekere dele van Mosambiek is net ’n uur en ’n half se ry van Suid-Afrika af.”
De Jager sê die Eskom-debakel het piesangboere, wat baie elektrisiteit gebruik om te besproei, ’n groot knou toegedien. “Piesangs is arbeidsintensief en benodig gemiddeld 1,2 werker per hektaar. Dit kos R180 000 om ’n hektaar te vernuwe en boere doen dit elke 12 jaar.”
Hy meen dis logies dat piesangboere ander planne sal maak as hulle nie weet of hulle oor twee jaar nog op hul grond sal wees nie. “Nou ry hulle ’n uur en ’n half verder, Mosambiek toe. Die piesangs word in presies dieselfde karton gepak en na dieselfde Suid-Afrikaanse markte gestuur, maar daar steek meer wins in die Mosambiekboks.
“Die koste van arbeid is die helfte van die koste hier en werkers mag nie staak nie. Elektrisiteitskoste is 22% van koste in Suid-Afrika en boere betaal nie vir water nie. Die wins word nie teruggeploeg in Suid-Afrika nie.”
Selfs meer landboubedrywe kan mettertyd na ander lande in Afrika verskuif, byvoorbeeld mango’s na Zambië, asook mielies na die Demokratiese Republiek van die Kongo. Eweneens is die potensiaal vir besproeiingslandbou beter in Zambië en Kongo-Brazzaville as in Suid-Afrika.
Sukkel met finansiering
Boerdery in ander Afrika-lande is egter nie net rooskleurig nie. Daar is byvoorbeeld nie juis finansiering beskikbaar nie, en die meeste pionierboere se bates in Suid-Afrika dien as kollateraal om lenings te kry om daar te belê.
“In die hele debat oor grondhervorming mis ek hierdie dimensie. Almal praat asof ons as boere ’n plaas of twee of drie kan verloor, maar min mense sê die banke gaan al ons plase verloor. Nog minder mense sê die hartklop van kommersiële landbou in Afrika is afhanklik van die sekuriteitswaarde van plase in Suid-Afrika.
“Dis wanneer markwaarde vou, soos in Zimbabwe, wat jy sien wat die domino-effek is as die kraantjies van finansiering toegedraai word.” Hy sê behalwe politieke risiko, is die beskikbaarheid van insetfinansiering die grootste enkele beperkende faktor vir die groei van die landbou in Afrika.
De Jager sê Afrika is buitengewoon geseën met natuurlike hulpbronne. “Wat Afrika nodig het, is waardekettings, belegging in finansiering, tegnologie en kundigheid. Afrika het net mooi alles wat geld nie kan koop nie, en kort alles wat geld kan koop.”
Hy het gewaarsku dat iemand iewers die nodige belegging in Afrika gaan maak en die vasteland se potensiaal gaan ontsluit. “Ek bid elke dag dat dit ons gaan wees.”