
Die SA wynbedryf is té afhanklik van die Verenigde Koningkryk, Duitsland en Nederland as uitvoermarkte.
Mnr. Mike Veseth, redakteur van The Wine Economist, het by die Nedbank VinPro-inligtingsdag verduidelik dat die teenoorgestelde van die industriële revolusie in Europa plaasvind: Dié EU-lande is besig om eerder wyn in grootmaat in te voer sodat hulle dit self kan verpak om werk te skep en hul eie ekonomieë te stimuleer.
Veseth het gesê dat Afrika nou 'n baie beter opsie vir markuitbreiding is as Europa, aangesien 'n ekonomiese groeikoers van 6% vir dié vasteland voorspel word. Die verwagte groei in Europa is 1,6% teen 2018. “Produsente moet hulself afvra of hulle wil aanhou om in ‘n ry te staan om hulle wyn teen afslag in Europa te verkoop.”
Groei is beperk
Mnr. Mike Lundy, 'n markontleder van Odgers Berndston, het saamgestem. Volgens hom is Mauritius, Botswana, Suid-Afrika, Rwanda, Namibië, Ghana, Tunisië, Zambië, Kenia en die Kaap Verdiese Eilande dié lande in Afrika met die laagste risiko. Die probleem is egter dat die meeste van hierdie lande redelik klein is en groei is beperk. Die lande met die grootste groeipotensiaal op sy lys is Nigerië, Suid-Afrika, Egipte, Algerië, Angola, Ethiopië, Marokko, Soedan, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Tanzanië. Ongelukkig is die meeste van hierdie markte ook redelik riskant.
Sy raad was dat voornemende uitvoerders eerder op twee of drie lande moet fokus as om te probeer uitbrei na die hele vasteland. Verder moet die manier hoe hierdie lande van Suid-Afrika verskil, ook in ag geneem word, aangesien dit 'n impak op bemarking gaan hê. Dinge om in ag te neem is byvoorbeeld afstand van Suid-Afrika, taal, godsdiens, die politieke stelsel en die manier waarop handel gedryf word.
Hy het ook daarop gewys dat dit in Suid-Afrika gemiddeld agt stappe duur voordat 'n ingevoerde produk op die winkelrak is. In Nigerië daarenteen is daar soveel as 72 stappe om net 'n produk by die hawe in te kry.