
Afrika sal na verwagting aanstaande jaar die middelpunt van Suid-Afrikaanse landbou-uitvoer bly, hoewel uitvoer na dié mark vanjaar gedaal het. Suid-Afrika se landbou-uitvoer na Afrika verteenwoordig sowat 45% van sy totale landbou-uitvoer.
Mnr. Tinashe Kapuya, hoof van internasionale handels- en beleggingsinligting by die landbousakekamer Agbiz, het in ’n aanbieding oor vooruitsigte vir aanstaande jaar gesê landbou-uitvoer as geheel het in vanjaar se eerste halfjaar weens die droogte gedaal.
Na Afrika was dit 12% laer: in verlede jaar se eerste halfjaar was die waarde meer as $1,9 miljard, vergeleke met sowat $1,7 miljard van Januarie tot Junie vanjaar. Kapuya het die uitvoersyfers in Amerikaanse dollar vergelyk, om die invloed van die verswakkende rand uit te skakel.
Hy het gesê dit was veral uitvoer na Afrika-lande wie se ekonomieë op olie gegrond is, wat geraak is. So het landbou-uitvoer na Angola met sowat 40% geval.
Hy verwag dat onderhandelinge oor die Drieparty-vryehandelsgebied (T-FTA) aanstaande jaar vinniger sal vorder en dat gesprekke oor ’n vryehandelsooreenkoms vir die vasteland ook momentum sal kry.
Europa
Suid-Afrika se landbou-uitvoer na die Europese Unie (EU), wat in die eerste helfte van 2015 net meer as $1,2 miljard beloop het, het in vanjaar se eerste halfjaar met 3% gegroei. Kapuya sê verdere groei word verwag danksy die nuwe ekonomiese vennootskapsooreenkoms tussen die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) en die EU.
Die groei kan egter beperk word deur nuwe sanitêre en fitosanitêre versperrings. Kapuya verwag nie dat Brexit-onderhandelinge ’n invloed op Suid-Afrikaanse uitvoer gaan hê nie, maar sê dit sal onsekerhede meebring.
Ooste
Vooruitsigte vir diversifikasie van landbou-uitvoer lyk volgens hom goed, veral vir vars vrugte na Asië en die Midde-Ooste.
Amerika
Kapuya verwag nie dat Amerika sy wet op groei en ontwikkeling in Afrika (Agoa) sal herroep nie en ook nie dat ’n Amerikaanse administrasie onder leiding van aangewese president Donald Trump sy verhoudinge met Suid-Afrika en die streek sal verander nie.
“Die onsekerheid oor die manier en omvang waarvoor die nuwe administrasie vorentoe vir wederkerige handelsbande sal druk, sal egter voortduur. Die verwagting is dat Suid-Afrika op medium tot lang termyn sy marktoegang sal behou, ondanks die moontlikheid van buite-siklus-hersienings (van Suid-Afrika se Agoa-deelname).”
Kapuya sê hy kry die indruk Amerika sou graag ’n bilaterale ooreenkoms met Suid-Afrika wou hê. Vir Suid-Afrika en die streek is daar egter voordele om as die Sadu met Amerika te onderhandel.
Die ander lande in die unie is minder ontwikkel. “Ons kan Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland as hefboom vir ’n sagter benadering gebruik.”
Suid-Amerika
Kapuya sê die handelsooreenkoms tussen Sadu en die Mercosur-lande het op 21 Oktober in werking getree.
Dit behels onder meer dat die invoertarief op soja-oliekoek uit die Suid-Amerikaanse handelsblok met 1,65% verlaag is, asook kwotatoewysings vir bevrore beessnitte, sojabone en soja- en sonneblomolie.