
Afrika se grootste kunsmisfabriek is vandeesweek in Lagos, Nigerië, geopen. Dit blyk egter dat Suid-Afrika, wat jaarliks sowat 80% van sy kunsmis invoer, nie in hierdie stadium daarby gaan baat vind nie.
Die Dangote-groep, wat naas die staat die grootste werkgewer in Nigerië is, het die kunsmisfabriek begin vanweë vrese oor wêreldwye tekorte weens die oorlog in Oekraïne. Rusland en Oekraïne is groot verskaffers van ureum, kalium en fosfaat, wat belangrike bestanddele van kunsmis is. Rusland is die wêreld se grootste uitvoerder van kunsmis en kommer oor tekorte het reeds pryse skerp laat styg.
Volgens die nuusdiens CNN is die kunsmisaanleg teen ’n koste van $2,5 miljard in opdrag van pres Muhammadu Buhari van Nigerië opgerig om ureum en ammoniak te verskaf. Die aanleg sal jaarliks 3 miljoen ton ureum verskaf, wat dit die naasgrootste aanleg ter wêreld sal maak.
Mnr. Alike Dangote, Afrika se rykste man, beoog ook om, benewens die kunsmisaanleg, later vanjaar ’n olie-raffinadery in Lagos te open wat 650 000 vate per dag sal kan lewer.
Hy het aan CNN gesê mense smeek hulle om kunsmis te koop, maar hulle is baie kieskeurig met die keuse van hul kopers. Daar word glo skepe gelaai met kunsmis wat na Amerika, Brasilië, Mexiko en Indië gaan. Europa probeer ook om van Nigerië af in te voer.
Dangote glo die kunsmisaanleg sal $5 miljard se uitvoerinkomste per jaar oplewer in ’n tyd dat Nigerië sy land se afhanklikheid van olie-uitvoer wil verminder.
Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, sê hy het gesien dat Suid-Afrika nie op die lys van voorkeurkopers is nie, maar dit gaan baie keer oor ligging. “Nigerië is nie noodwendig die beste ligging vir ons om van in te voer nie.”
Wat Suid-Afrika se kunsmisinvoer verlede jaar betref, het Rusland ’n belangrike rol gespeel. Van die 297 000 ton mono-ammoniumfosfaat (MAP) wat ingevoer is, het 203 000 ton uit Rusland gekom, 63 000 ton uit Saoedi-Arabië en 20 000 ton uit China. Van die 406 000 ton kaliumchloried wat in 2021 ingevoer is, het 107 000 ton uit Duitsland gekom, 103 000 ton uit Chili en 52 000 ton uit Rusland.
Suid-Afrika het 958 000 ton ureum ingevoer: 265 000 ton uit Saoedi-Arabië, 278 000 ton uit Katar en 43 000 ton uit Rusland.