
Die Suid-Afrikaanse ekonomie is volgens 'n ekonoom op die rand van 'n afgrond.
“Ek was nog nooit voorheen so bekommerd oor vooruitsigte op medium termyn nie,” het dr. Azar Jammine, hoofekonoom en direkteur van Econometrics, by die pluimveekongres AVI Africa in Kempton Park gesê.
Vir die pluimveebedryf het hy 'n moeilike jaar of twee voorspel. Die vraag na voedsel word tot groot mate deur die armer deel van die bevolking bepaal.
Die inflasiekoers kan na verwagting tot 6,5% styg en dit is vir ondernemings moeilik om hul eie kostestygings deur te gee aan verbruikers wat swaar kry.
Die goeie nuus is dat dit goed gaan met ekonomieë in Afrika suid van die Sahara, danksy die groei in die Chinese ekonomie wat pryse van hulpbronne en kommoditeite laat styg het.
Selfs al sou die Chinese ekonomiese groeikoers verstadig, reken Jammine dat die Afrika-streek reeds genoeg van sy eie momentum opgebou het. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) verwag vir 30 Afrikalande groei van tussen 5% en 8% en vir Afrika suid van die Sahara 5,5%, maar vir Suid-Afrika minder as 2%. “Dank die hemele vir Afrika, want dit dryf ons uitvoer,” het Jammine gesê.
Die vakbond Amcu se mynstaking kan rampspoedige gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie hê, tesame met die dreigemente van die vakbond Numsa met sy 200 000 lede wat van 1 Julie kan begin staak vir loonverhogings van 15%.
“Wie kan hulle eintlik kwalik neem as 'n mens na die groot ongelykhede kyk?” het Jammine gevra.
Hy sê rade van maatskappye verhoog voortdurend toplui se vergoeding om tred te hou met mekaar, sodat hul personeel nie afgerokkel word nie. So word die gaping tussen toplui en werkers al hoe groter.
Dit is volgens Jammine een van die dryfvere vir die stakings. “Is dit 'n opstand van die werkersklas teen die kapitalistiese stelsel?” vra hy.