
Die Afrika-ontwikkelingsbank en vennote beoog om $1 miljard (R14,6 miljard) te mobiliseer om die produksie van koring en ander gewasse in Afrika te bevorder.
Dr. Patrick Verkooijen, uitvoerende hoof van die wêreldsentrum vir aanpasbaarheid (GCA), me. Anne Beathe Tvinnereim, Noorweegse minister van internasionale ontwikkeling, en dr. Akinwumi Adesina, president van die Afrika-ontwikkelingsbank, skryf in ’n meningstuk dat Rusland se inval in Oekraïne Afrika se afhanklikheid van invoer ontbloot.
Dit wys opnuut hoe belangrik dit is om die vasteland se eie voedselproduksie te bevorder en in klimaatsaanpassing vir die landbou te belê.
Terwyl die konflik in Oekraïne onmeetbare lyding en verwoesting daar veroorsaak, dreig dit volgens die skrywers ook om ’n stil katastrofe in Afrika te veroorsaak. Die konflik het voedselpryse die hoogte in laat skiet, terwyl 283 miljoen mense op die vasteland reeds honger ly.
Ingevoerde koring verteenwoordig sowat 90% van Afrika se handel met Rusland en byna die helfte van die vasteland se handel met Oekraïne. Sanksies teen Rusland het graanverskepings ontwrig juis toe internasionale voorrade reeds knap was. Volgens Verkooijen, Tvinnereim en Adesina vergroot dit vrese vir massa-hongersnood in Afrika.
Die vasteland se voedselkrisis het oor ’n tydperk ontwikkel. Klimaatsverandering ontwrig weerpatrone en berokken die landbou skade, nie net in Afrika nie, maar op baie plekke in die wêreld. Dit het daartoe bygedra dat voedselpryse nou op hul hoogste vlak in byna 50 jaar is.
Benewens oorlog is klimaatsverandering waarskynlik die grootste bedreiging vir wêreldvoedselsekerheid. Langtermyn-, volhoubare oplossings is nodig om die landbou in staat te stel om aan te pas.
Hulpprogramme
Die Afrika-ontwikkelingsbank bring deur sy tegnologieprogram TAAT hoë-impaktegnologie na die landbou op die vasteland om produksie te verhoog. Die doel is om 40 miljoen boere te help om hul opbrengs van hitteverdraagsame koring-, rys- en sojaboonkultivars, en ander gewasse te verhoog.
GCA en ander ontwikkelingsvennote is sedert verlede jaar, danksy ’n program om aanpassing in Afrika te versnel, besig met werk om klimaatsveerkragtige tegnieke na kleinskaalse produsente te bring, wat die meeste van Afrika se voedsel produseer.
GCA raam dat die koste om in klimaatsbestande plase in Afrika te belê, minder as ’n tiende beloop van die skade wat deur klimaatsrampe veroorsaak word, insluitend oesverliese, rampverligting, die herbou van paaie en om boere weer op hul voete te kry. Vir Afrika suid van die Sahara is laasgenoemde koste na raming $201 miljard (R2 933 miljard) per jaar, terwyl beleggings in klimaatsaanpassing van die landbou volgens die GCA na raming sowat sowat $15 miljard (R219 miljard) sal kos.
Volgens Verkooijen, Tvinnereim en Adesina kan klimaatsverandering in Afrika, teen 2030, 15% van die bruto binnelandse produk uitwis, wat beteken ’n bykomende 100 miljoen mense kan teen die einde van die dekade in armoede gedwing word.
Geskikte kultivars
Om landbou-opbrengste te verhoog, moet die vasteland se ryk biodiversiteit beskerm en nuwe gewaskultivars gevind word wat meer geskik is vir droër en warmer klimate. Genebanke bewaar duisende belangrike plantmonsters wat wetenskaplikes kan gebruik om beter kultivars te ontwikkel, maar hulle ly al jare lank weens onvoldoende finansiering en personeel, wat risiko’s veroorsaak vir plantversamelings en toekomstige voedselsekerheid.
Die organisasie Crop Trust het ’n projek genaamd BOLD wat deur Noorweë en die Europese Unie gefinansier word en wat finansiële en tegniese steun aan genebanke in Nigerië, Zambië, Kenia, Ethiopië en Ghana bied.
- Die meningstuk, wat hier verkort is, is oorspronklik deur Thomson Reuters gepubliseer.