Afrikalande moet binne die huidige geopolitieke spanning oor hul eie belange waak en kyk hoe hulle “die groot lande teen mekaar kan afspeel en voordeel kan trek uit die geleenthede wat dit skep,” het prof. Mills Soko, hoogleraar in internasionale sake en strategie aan die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool, op die landbousakekamer Agbiz se kongres by Sun City gesê.
Volgens hom is die huidige wêreldorde deur ’n hele paar politieke en ekonomiese faktore gevorm, soos groeiende weerstand teen globalisering reg oor die wêreld waarin China se opgang in die wêreldekonomie ’n belangrike rol speel.
“In die verlede is China en ander opkomende ekonomieë as geleenthede gesien, maar vandag word hulle as bedreigings gesien.” Amerika, Japan en Europa het baie dekades lank die wêreldekonomie oorheers, maar met die opgang van China, Brasilië en Indië het die wêreldhandelstelsel meer gefragmenteerd geword.