
Afrika se krag as uitvoerbestemming is opnuut bewys deur Distell se jongste finansiële resultate, ondanks druk op winsmarges.
Luidens ‘n verklaring het die maatskappy se bedryfswins met 0,1% gedaal, terwyl die netto bedryfsmarge 0,5% laer was as vir die ooreenstemmende tydperk in 2009.
Mnr. Jan Scannell, die besturende direkteur van die maatskappy, sê ongunstige wisselkoerse en ‘n minder winsgewende verkoopsmengsel het van die voordele van redelike volumegroei teengewerk.
“Die sterk rand het ook baie van die voordele wat ons uit verhoogde deurset en doeltreffendheidsverbetering behaal het, ongedaan gemaak. Winsgewendheid en -marges het gevolglik daaronder gely.”
Handelstoestande
Ondanks uiters mededingende handelstoestande het plaaslike verkoopsvolumes met 3,2% en omset met 6,2% gestyg.
“Die sterk geldeenheid het van die land ook ’n nog aantrekliker bestemming gemaak vir buitelandse handelsmerkeienaars wat aggressief op prys kon bemark.”
Die verkope van wyn en spiritualieë het afgeneem, maar ‘n toename in sider- en RTD-handelsmerkverkope het vir dié daling opgemaak.
Afrika skitter
Afrika se krag as uitvoerbestemming vir Suid-Afrikaanse wyn- en drankmaatskappye is opnuut deur Distell se jongste finansiële resultate bewys.
Die vasteland het sowat twee derdes tot Distell se groei in die buiteland bygedra. Terwyl verkoopsvolumes in die plaaslike mark met 3,2% geklim het, het internasionale verkope (Afrika ingesluit) met slegs 1,6% gestyg.
Die swakker vertoning in die buiteland is weens die rand se bullopie teenoor vername geldeenhede. Altesaam 64,1% van die buitelandse groei kom uit Afrika. Produkte soos die bekostigbare wynreeks Obikwa en die likeurhandelsmerk Amarula vaar uitstekend op die res van die vasteland.
Regte mense en produkte
Volgens mnre. Merwe Botha, finansiële direkteur, en Jan Scanell, besturende direkteur, is die maatskappy se sukses in Afrika aan ‘n kombinasie van die regte produkte en goeie beleggings in bemarking en personeel te danke. Die maatskappy is al baie jare lank by Afrika-markte betrokke, maar het in 2003 ernstig op dié markte begin fokus.
“Ons is in alle markte in Afrika teenwoordig, maar ons sien moontlike geleenthede om ons betrokkenheid in die prioriteitlande uit te brei.”
Hierdie lande sluit Angola, die “Horing van Afrika” en Oos-Afrika in. Terwyl die sterk rand die KWV hard geslaan het en hulle onlangs teleurstellende finansiële resultate bekend gemaak het, het die rand nie in Distell se groeipad gestaan nie.
17 Februarie 2011