
Varkplase in die Thembalethu-township in George in die Suid-Kaap is weens Afrika-varkpes onder kwarantyn geplaas, het die Wes-Kaapse departement van landbou se afdeling staatsveeartsenydienste aangekondig.
Lede van die gemeenskap en varkboere word gevra om geen varke of varkprodukte uit dié gebied te verwyder nie om te voorkom dat die siekte versprei.
Afrika-varkpes is ook vroeër vandeesmaand in Mosselbaai bespeur.
Dr. Gininda Msiza, hoof van veeartsenydienste by die departement, sê die enigste manier om varke teen siektes te beskerm, is om die nodige maatreëls teen die verspreiding van siektes toe te pas.
“Karkasse moet veilig weggedoen word. Varke moet ingeperk word sodat hulle nie rondloop en siektes opdoen of versprei nie. Hande, skoene, kledingstukke en toerusting moet ontsmet word voor en ná kontak met varke. Vleisprodukte moet ordentlik gaargemaak word voor dit vir varke gevoer word.”
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê sy departmant monitor die situasie en sal die nodige dienste beskikbaar stel om die verspreiding van die siekte te voorkom.