
Afrivet, die Suid-Afrikaanse dieregesondheidsmaatskappy wat in 2000 deur die veearts dr. Peter Oberem gestig is, is onlangs verkry deur Bimeda, ’n Amerikaanse multinasionale vervaardiger van veeartsenykundige medisyne en ander produkte.
Bimeda, wat sy hoofkantoor in die deelstaat Illinois het, het reeds bedrywighede in Kenia, Uganda, Tanzanië en Zambië. Afrivet sal voortaan onder die maatskappy se afdeling vir Asië, die Stille Oseaan, die Midde-Ooste en Afrika val, waarvan die hoofkantoor in Kenia is.
Volgens sy webwerf het Bimeda ook ’n teenwoordigheid in Kanada, Mexiko, Brasilië, Brittanje, Ierland, Frankryk en China. Die maatskappy se produkte word tans in meer as 80 lande verkoop. Die groep bedryf 11 fabrieke in agt lande, nege navorsing-en-ontwikkelingsentrums en drie diagnostiese laboratoriums.
Nuwe produkte
Dr. Peter Oberem het aan Landbou.com gesê die transaksie is op 11 Augustus voltooi, en daar is reeds aan alle regulatoriese vereistes voldoen.
Hy wys daarop dat Bimeda reeds baie jare in Afrika betrokke is, en ’n aantal produkte vervaardig wat spesifiek vir die vasteland en sy kwessies ontwikkel is.
“Een hiervan is sy produkte vir die bekamping van theilerose, wat tans nie in Suid-Afrika toegelaat word nie, ’n besluit wat ek glo in die nabye toekoms omgekeer sal word.”
Theilerose is ’n groep parasitiese siektes wat deur bosluise versprei word.
“Ek ken Bimeda al meer as 32 jaar en het nog altyd opgemerk hoe soortgelyk ons sakefilosofieë is. Ek is werklik opgewonde oor die toekoms van die maatskappy,” het Oberem gesê.
Naam bly
Oberem het gesê Afrivet sal aanhou om onder sy eie handelsnaam sake te doen.
“Afrivet is ’n uiters sterk handelsmerk. Onafhanklike opnames toon dat dit tans die naasbeste herkende en vertroude handelsmerk onder Suid-Afrika se kommersiële boere is. Ek glo ons is nommer een by kleinskaalse produsente. Om dié rede sal die versterkte besigheid vir die afsienbare toekoms voortgaan as Afrivet.”
Hy het gesê Bimeda sal groot bedingingsmag en energie na Afrivet se bedrywighede in Suider-Afrika bring.
“Bimedia steun ons breë strategie van die verskaffing van vaardighede (deur ons Afrivet-opleidingsdienste) en produkte aan kommersiële en kleinskaalse produsente, troeteldiereienaars en die veeartsenykundige bedryf. Hierdie aanbod sal nou uitgebrei word na Oos- en Sentraal-Afrika deur Bimeda se bedrywighede daar.”
Lewenskragtig
Bimedia sê luidens ’n verklaring Afrivet het in 2021 ’n inkomste van meer as €25 miljoen (sowat R427,250 miljoen) getoon.
Die maatskappy het ook bedryfsafdelings in Zambië en Mosambiek, wat ingesluit is in die verkryging. Met dié transaksie sal Bimeda die grootste teenwoordigheid van enige dieregesondheidsmaatskappy in Afrika hê.