
Mnr. Pieter Esterhuysen, voormalige voorsitter van die GSI-raad en voorsitter van die tussentydse stuurkomitee vir die vestiging van Agbiz Grain, het by ’n Agbiz-mediadag gesê die bedryf het sedert 2012 na herstrukturering gekyk. Dit was in die lig van makro-neigings soos konsolidasie, integrasie, die strewe na doeltreffendheid, verhoogte fokus op invloed en produktiwiteit, en die strewe na laerkosteoplossings.
Die GSI-raad het onlangs ’n ooreenkoms met Agbiz oor die nuwe afdeling gesluit. Esterhuysen sê die meeste landboumaatskappye wat kommersiële graanhanteringsondernemings het, is reeds lede van Agbiz. As afdeling van Agbiz sal Agbiz Grain die bedryf beter kan verteenwoordig deur voordeel te trek uit die sakekamer se goed gevestigde netwerk en sal deur skaalvoordele beter waarde kan bied.
Agbiz Grain sal aanvanklik die belange van 12 kommersiële graanhanteringsmaatskappye met ’n totale bergingskapasiteit van 15 miljoen metrieke ton verteenwoordig, wat sowat 85% van die land se kommersiële graanbergingskapasiteit is.
Die afdeling wil sy lidmaatskap uitbrei om kleiner rolspelers in te sluit, insluitend diegene wat sogenaamde alternatiewe infrastruktuur gebruik. Me. Mariana Purnell, hoofbestuurder van Agbiz Grain, sê die afdeling bied sy lede ’n omvattende nuwe webblad - www.agbizgrain.co.za - met belangrike inligting.