
Agbiz het hom van Asuf, die eenheidsforum vir die landbou onttrek, maar het steeds sy samewerking beloof.
“Ná sorgvuldige oorweging het Agbiz besluit om hom van Asuf te onttrek. Die onttrekking is nie weens ’n gebrek aan vertroue of 'n beginselsaak nie, maar eerder omdat Agbiz glo dat funksionele eenheid op primêre vlak in die landbou in die toekoms sterker na vore moet tree in groter strukturele eenheid,” het mnr. Schalk Pienaar, voorsitter van Agbiz, gesê.
Hy het gesê Agbiz sal wel sy samewerking insake gemeenskaplike belange in die primêre landbou gee, "want alle boere is in wese kliënte van agri-ondernemings wat 'n gevestigde belang in hul algemene welsyn het."
Die belange van Agbiz se lede verskil egter oor die algemeen aansienlik van diegene in die primêre landbousektor, daarom moet hy sy funksionele en strukturele outonomie behou. Agbiz se lede het aangedui hulle wil hê dat hy na hulle spesifieke belange moet omsien en nie vasgevang moet raak in gewone primêre landboukundige kwessies nie.
“Agbiz het oor die afgelope jare aansienlik ontwikkel en verteenwoordig toenemend ’n baie wyer spektrum landboukundige kwessies wat nie die tradisionele direkte skakel met produsente het soos voorheen nie. Agbiz het ’n vername rol gespeel in die vestiging van Asuf deur die sekretariaat en leierskap te verskaf, maar die toenemende operasionele eise het Agbiz, wat self oor 'n beperkte personeelkorps beskik, oorlaai,” het Pienaar gesê.