
Die wêreldwye vervaardiger en verspreider van landboutoerusting en oplossings, AGCO, het sy streekstrukture aangepas en dit sal sy teenwoordigheid en bedrywighede in Afrika vergroot.
Vanaf 1 Januarie 2017 sal AGCO se streek vir Asië en die Stille Oseaan ook Afrika insluit, luidens 'n verklaring.
Van die sinergieë wat só benut sal kan word, is die opkoms van 'n groeiende getal kleinboere, soortgelyke produkte, toepassings en verbruikerspatrone, en groeiende handel tussen die streke.
AGCO gaan ook aanstaande jaar 'n nuwe Future Farm-sentrum vir opleiding in meganisasie in Wes-Afrika open.
Die uitbreidings sal sy bestaande bedrywighede vir onderdeleverspreiding en opleiding in Suid-Afrika asook die Future Farm-sentrum in Zambië ondersteun.
Van AGCO se kern-handelsmerke is Challenger, Fendt, GSI, Massey Ferguson en Valtra.