
Me. Leona Archary, uitvoerende hoof, sê in die algemeen is die lede tevrede met die vordering en hulle hoop om binne die volgende maande van hul groot kapitaalprojekte aan die gang te kry. “Onthou, dit het nie net gegaan oor die insameling van geld nie, maar ook om as tussenganger op tree om vennootskapsooreenkomste vir projekte te sluit, vaardigheidsontwikkeling en toegang tot markte. Ons het nou al byvoorbeeld ooreenkomste gesluit met die Gautengse provinsiale regering, die departement van landbou in Limpopo en ons is ook besig met Mpumalanga en die Vrystaat.
“Dit verbind geleenthede in die private sektor met staatsinstellings en ek is baie optimisties dat ons vanjaar baie vinniger sal vorder met ons planne.”
Agda het in Maart sy eerste jaarvergadering gehou en by dié geleentheid is dr. Mathews Phosa, sakeman en ook Mpumalanga se eerste premier in 1994, tot voorsitter verkies in die plek van mnr. Nick Serfontein van die Sernick-groep, wat in die raad aanbly.
Hoewel Agda se infrastruktuur verlede jaar eers ten volle op die been gebring is, het hy reeds toe al sy ledetal tot meer as 180 lede uitgebrei. Daar is ontwikkelingsprojekte by onder meer Jabulani, Mamelodi, Olievenhoutbosch, Louwsburg, Waterberg en Garankuwa op die been gebring wat tot die behoud en skep van 500 werksgeleenthede bygedra het. Ander projekvoorstelle en sakeplanne van 2021 behels die behoud en skep van ’n verdere 3 500 werksgeleenthede.
Projekte wat vanjaar deurgevoer word, sal bydra tot 2 400 werksgeleenthede en projekte in ’n beplanningstadium tot nog 1 500 werksgeleenthede. Een van die kommersiële projekte in vennootskap met De Beers behels ’n aartappel-en-groente-knooppunt by Blouberg in Limpopo. Die projek is gemik op die ontwikkeling van 40 nuwe aartappelboere oor die volgende vier jaar en sal 800 werksgeleenthede skep. Daar word ook planne beraam vir ’n pakhuis en marktoegang. Die private sektor, die staat, gevestigde landboubesighede en boere is betrokke.
Nog ’n projek is ’n tuinbou-ontwikkelingsplan by Soweto saam met die Gautengse provinsiale regering. Hoëwaardegroente sal verbou word met werksgeleenthede wat op produksie- en verwerkingsvlak.
Nog ’n voorbeeld van ’n projek wat goed vorder, is ’n voedselsekerheidsprojek saam met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en Amandla om 330 mense in verskillende gebiede op te lei om koöperasies te vestig wat kleinboere sal help om doeltreffend deel te word van plaaslike markte.
Een van die voorkeurareas is Louwsburg in die noorde van KwaZulu-Natal waar die inwoners hoofsaaklik van die landbou afhanklik is. Sowat 75 gemeenskapslede is begin vanjaar opgelei in boerderymetodes wat op huishoudelike voedselsekerheid gemik is. Hulle het groentesaad ontvang om te plant en ’n plaaslike koöperasie hou toesig oor hul boerderye.
Die kwessies waarop Agda in 2022 wil konsentreer, is voedselsekerheid en landbouhuishoudings, die kommersialisering van swart boere, marktoegang, vennootskappe, opleiding en vaardigheidsontwikkeling.
Die agentskap is onder leiding van oudminister Roelf Meyer op die been gebring nadat ’n voorstel daaroor op Landbouweekblad se grondberaad by Bela-Bela in 2018 bespreek is. Dit was na aanleiding van ’n versoek van pres Cyril Ramaphosa aan die private sektor om met planne vorendag te kom om werk te skep.