
’n Diversifikasiebesluit, wat noodgedwonge weens een van die ernstigste droogtes nog geneem moes word, het aanleiding gegee tot mnr. Herman du Preez se aanwysing as Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar vir 2022. “Die droogtes van die 1980’s het my pa, Manie du Preez, seergemaak. Hy het daarna ’n manier gesoek om te diversifiseer, weg van slegs mielie-aanplantings. Hy het daarom sy beesboerdery uitgebrei en met hoenders begin boer.” Die aanvanklike hoenderboerdery het bestaan uit 5 000 braaihoenders in ’n skuur.
Nadat Du Preez jr. in 2002 gematrikuleer het, het hy verder by die boerdery betrokke geraak.
Die aanvanklike koper van Frangipani-boerdery se hoenders, Henwill Chickens, is in 2001 gelikwideer. ’n Aantal boere, onder andere Manie, het die besigheid uitgekoop en aandeelhouers daarvan geword. Ná Manie se dood in 2016 het Herman as aandeelhouer in Henwil Chickens oorgeneem. Die besigheid het intussen sterk gegroei en ’n voerfabriek wat 12 000 ton voer per maand kan produseer, is in aanbou.
Intussen het die hoender-afdeling van Du Preez se boerdery ook gegroei en dit lewer nou 550 000 hoenders per siklus. Hulle slag 135 000 hoenders per dag. Benewens hoenders produseer Frangipani-boerdery ook mielies en beeste.
Du Preez sal nou deurgaan na die finale ronde om met ander provinsies se jongboer-wenners mee te ding om die nasionale titel later vanjaar. “Die toekenning is ’n groot eer en ’n bewys dat harde werk en deursettingsvermoë resultate lewer,” het Du Preez gesê.
Die ander twee finaliste in vanjaar se kompetisie in Noordwes was me. Anje Lubbe van Agri Makwassie en mnr. Fanie Badenhorst van Agri Kameel.